Mediaverklaring

14 November 2023

Ons vier vandag steeds die Gelofte wat ons voorouers, vanjaar 185 jaar gelede, in 1838 gemaak het.

Op 16 Desember 1949 het ’n kwartmiljoen mense die inhuldiging van die Voortrekkermonument bygewoon. Verlede jaar het 20 000 mense by die Voortrekkermonument byeengekom om trots die geloofsprong van ons voorouers te herdenk.

Hoekom?

Hoekom het die Gelofte vandag steeds ’n grootskaalse impak op ons menswees en gemeenskappe? Hoekom herdenk ons dit steeds?

Dit alles lê in een woordjie opgesluit: hoop.

In ’n land waar ons munisipaliteite agteruitgaan, waar basiese dienste nie gedoen word nie en waar ons nie voorspelbare kragtoevoer het nie, verloor ’n mens hoop. In ’n land waar ons weekliks van nuwe plaasaanvalle hoor en waar die regering daaroor swyg en waar ons vroue nie veilig voel om alleen te reis nie, is daar net een plek waar ons ons hoop vandaan kry.

Ons vestig ons hoop op God, nés ons voorouers van ouds. Daarom herdenk ons nog Geloftedag 185 jaar later. Daarom onderhou ons vandag steeds die belofte wat ons voorouers gemaak het.

Jaco Cilliers is ’n direkte afstammeling van Piet Retief. Sy kinders is die agtste geslag na die Slag van Bloedriver. Cilliers is van mening dat die Gelofte vandag net so belangrik vir Suid-Afrikaners is as wat dit vir die Voortrekkers was.

“Die Gelofte van 16 Desember 1838 is vandag nog net so belangrik vir ons as wat dit was op die aand van 15 Desember 1838. Die genade wat ’n klein groepie van 464 mans daardie dag ontvang het, het oorgespoel in die vorming van drie republieke wat uiteindelik die landskap van Suid-Afrika gemaak het wat dit vandag is. Die wonderwerk wat op 16 Desember 1838 plaasgevind het, weergalm vandag nog in die lewens van die miljoene Afrikaners wat Suid-Afrika hulle tuiste noem. Vir agt geslagte het die Gelofte ’n groot impak gehad.”

Marnus Nel (25) is die agtste geslag van Sarel Cilliers en vier steeds jaarliks Geloftedag, waar hy ook al homself bevind.

“Sarel Cilliers sou verbaas gewees het as hy kon sien hoe wyd sy nasate hom steeds vereer. Ek dink hy sou baie trots, maar ook nederig gewees het. Die Gelofte bevestig ons geloof in God en bevestig die dankie en eer verskuldig soos belowe in die Gelofte.”

Vir dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument en FAK, is die Gelofte ’n ernstige saak.

“Die feit dat 20 000 mense vir Geloftedag by die Voortrekkermonument opgedaag het verlede jaar, is vir ons ’n bewys dat Geloftedag steeds vir Afrikaners ’n belangrike dag is. Dit is iets wat ons koester. Die Voortrekkermonument bly een van ons belangrikste Afrikanerbakens en sê ‘hier is ons, ons bou voort’. Dit is ’n helder vlam van toekomshoop. Die Gelofte is ’n belydenis van afhanklikheid van God en deur die Gelofte jaarliks te herdenk, bevestig ons dit oor en oor.”

Hannes Noëth, voorsitter van die Krugergenootskap en uitvoerende hoof van Helpende Hand, het die belangrikheid van die Gelofte só opgesom: “Die Gelofte is eerstens ’n erkenning van die verlede en waar ons vandaan kom, ten tweede ’n bewustheid van die hede en ten derde ’n gryping na die toekoms wat in hoop gegrond is. Die Gelofte is identiteit, dit is behoort, dit is wees. Die Gelofte is tydloos, sedert dit in 1838 afgelê is.”

Die Gelofte is ’n gewigtige onderwerp vir alle Afrikaners binne en buite Suid-Afrika. Selfs in die buiteland is daar byna tien Geloftefeeste wat Afrikaner-emigrante reël, juis omdat die Gelofte steeds vir ons ’n belangrike saak is. In die VSA vind daar vanjaar twee Geloftefeeste plaas, in Australië vier en in Nieu-Seeland twee.

Cilliers is van mening dat soos ons voorouers met blinde vertroue op God die binneland ingetrek het, so ook is dit vandag.

“Die Gelofte is nie net ’n ritueel wat ons maar jaar na jaar herdenk nie. Die Gelofte is wie ons is, want daarsonder sou ons nie wees nie.”