Op 11 November het die Orania-gemeenskap, saam met miljoene mense wêreldwyd, tyd gemaak om stil te staan en terug te dink aan die einde van een van die mees vernietigende oorloë in die geskiedenis. Waar ander lande die dag as Remembrance Day of Rooipapawerdag herdenk, is dit in Orania bekend as Witkruisdag — ’n oomblik van eerbied en besinning oor die prys van opoffering, lyding en oorlog.

Rooipapawerdag herinner aan dié dag in 1918 toe ‘n wapenstilstand tussen die Duitsers en die Geallieerdes gesluit is, wat die Eerste Wêreldoorlog tot ’n einde gebring het, maar in Orania het die geleentheid ’n bykomende betekenis gekry. Dit is nie net ’n huldeblyk aan dié wat in wêreldoorloë geveg en geval het nie, maar ook aan die soldate wat hul dapper plig tydens die Grensoorlog uitgevoer het, en aan die boere, vroue en kinders wat vandag steeds slagoffers van plaasaanvalle is.
Vrede en hoop
’n Stil optog, gelei deur ’n tromorkes en deelnemers in wit geklee, het vanjaar vanaf die BKO Ouditorium tot by die Witkruiskoppie beweeg. Die simboliek was duidelik: die wit dra nie net rou nie, maar ook vrede en hoop.
By die koppie is die dag se verrigtinge geopen deur Gawie Snyman, uitvoerende hoof van die Orania Dorpsraad. In sy diep en eerlike boodskap het hy die gehoor herinner dat elke mens geroep word om God se werk in hul eie hart toe te laat. “Ons vra dat die Here in ons harte werk — dat Hy dit vorm,” het Snyman gesê, voordat hy met gebed afgesluit het.
Tydens haar verwelkoming het Cara Tomlinson, kultuurkoördineerder van die FAK in die Noord-Kaap, die betekenis van die dag pragtig opgesom: “Witkruisdag is anders as ander kulturele dae wat ons aan gebeure uit die verlede herinner. Vandag dink ons nie net aan wat lank gelede tydens die wêreldoorloë gebeur het nie, maar ook aan ons vaders en seuns wat op die grens diens gedoen het, asook aan ons eie mense wat elke dag slagoffers van geweld op plase is. Hierdie dag is vir húlle.”
Frans de Klerk, skakelbeampte van die Orania Beweging, het sy toespraak op die wyse woorde van Prediker gegrond: “Daar is ’n tyd vir alles.” Hy het vertel dat daar ook ’n tyd is vir trane en vir herinnering — ’n tyd om te erken dat swaarkry en verlies deel van elke volk se pad is. “Ons mense het swaar gekry, en ons mag hartseer wees. Vandag is die dag om stil te staan, te onthou, en om eer te betoon aan hulle wat gely het,” sê hy.
Alida Verwoerd, ‘n dorpsinwoner, het daarna die gehoor geraak met ’n aangrypende gedigvoordrag, waarna verteenwoordigers van verskeie instansies hulde gebring het deur kranse aan die voet van die wit kruis te lê. Die minute van stilte wat daarop gevolg het, was intens en eerbiedig — gevolg deur die plegtige klanke van die “Laaste Taptoe”, waarna die Roepstem van Orania die verrigtinge afgesluit het.
Kortfilm oor landelike geweld
Die tweede deel van die program is in die BKO Ouditorium aangebied, waar die splinternuwe kortfilm “Twee Koppies” bekendgestel is — ’n samewerkingsprojek tussen die FAK-kantoor in die Noord-Kaap, die Orania Beweging en die Murphy-gesin van Orania. Die film is gebaseer op die prosa van Jonathan Murphy, wat self tydens die vertoning oor sy inspirasie en die harde realiteite agter die verhaal vertel het.
“Twee Koppies” verbeeld die skokkende ervaring van ’n jong meisie wat in ’n oogwink haar kinderlike onskuld verloor wanneer sy drie groot rooi letters op die muur van haar ouers se slaapkamer lees — letters wat haar wêreld vir altyd verander. Murphy het beklemtoon dat die verhaal die kwesbaarheid van vroue en kinders op plase in Suid-Afrika raak: “Dis ’n werklikheid waarmee ons kinders gekonfronteer word. Ek wou daardie broosheid, maar ook die moed, vasvang.”
Tomlinson het ná die vertoning die belang van kultuur en kuns vir die Afrikanergemeenskap benadruk: “Kultuur en kuns is bepalend vir ons toekoms. ’n Goed vertolkte storie wat die werklikheid eerlik onder die loep neem, is kragtiger as ’n duisend toesprake,” sê sy.
Sy het afgesluit met woorde: “Ná ’n ernstige, eerbiedige program is my gebed dat die Here ons behoed, dat Hy ons genadig sal wees — en dat ons, te midde van pyn en verliese, steeds ligdraers in hierdie land sal bly.”
“Witkruisdag 2025 in Orania was nie bloot ’n herdenking nie,” sê Barry Müller, nasionale hoof: gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte van die FAK. “Dit was ’n geleentheid om gemeenskap te bou, om te onthou en om te herstel. Soos die wit kruise teen die koppie se helling uitstaan teen die Bo-Karoo se swart klippe en rooibruin aarde, so staan geloof, identiteit en volharding uit teen die uitdagings van die tyd.
“Tydens die stilte van 11 November, tussen die roepritme van die trom en die sagte wind oor die veld, is opnuut bevestig: Onthou is nie om vas te kyk in die verlede nie — dit is om die verlede te eer terwyl jy die toekoms met moed in die oë kyk en bou,” sê hy.

