Die Orania-gemeenskap herdenk op 11 November die duisende plaasmoordslagoffers en soldate wat op die grens gesterf het. Alhoewel die dag nie ’n amptelike vakansiedag in die Orania-gemeenskap is nie, word daar ’n verrykende program en kranslegging aangebied waar die gemeenskap eer kan betoon aan mense wat in die stryd met hulle lewens betaal het.

Inwoners van Orania het na hulle dag se werk, in wit geklee, bymekaar gekom en in ’n optog gestap na die Witkruiskoppie by die Orania Dorpsraadkantore, waar hulle deur mnr. Pieter Bisschoff verwelkom is. Ds. Ronald Bain open die geleentheid met Skriflesing en gebed waarna meneer Thomas van Dalen oor plaasmoorde in Suid-Afrika gepraat het. ’n Gedig is ook deur meneer Jan Snyders voorgedra. Geleentheid vir verskeie instansies en individue is gegee om aan die voet van ’n groot wit kruis, ’n krans te lê. Die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge) se Noord-Kaap-kultuurnetwerk op Orania het vanjaar vir die eerste keer aan hierdie eerbiedige dag deelgeneem nadat die netwerk in Augustus vanjaar in die Noord-Kaap gevestig is.

Na afloop van die kranslegging is die “Laaste Taptoe” deur mnr. Eric Borman gespeel en is afgesluit met die vierde strofe van “Die Stem”.

11 November, die einde van die Eerste Wêreldoorlog, word wêreldwyd as Rooi Papawerdag herdenk. Op dié dag word daar aan al die slagoffers gedink wat die hoogste prys tydens die oorloë in diens van hulle land betaal het.