Sedert sy album Beautiful beautiful piano ’n paar jaar gelede verskyn het, het Rocco de Villiers se gewildheid aansienlik toegeneem, nie net as gevolg van sy vertolking van bekende liedjies nie, maar ook eie komposisies.

Rocco het nou weer, na sy versamelalbum Beautiful beautifiul collection , nog ’n versameling, getiteld Beautiful beautiful favourites vrygestel, met ’n aantal snitte wat al voorheen vrygestel is, maar ook ’n paar nuwes. Een van die nuwe snitte is ’n baie goeie weergawe van Kenny Rogers se treffer “Lucille”. Nog ’n country-treffer wat hy ingesluit het, is “Blue eyes crying in the rain”, wat onder meer deur Willie Nelson gewild gemaak is. Rocco se klavierweergawe is besonder goed. “Liewe hemel, liewe aarde” is ’n uitstekende oorspronklike komposisie wat baie gewild geword het. Nog een van sy oorspronklike komposisies is “Anna Aeroplane”. Josh Groban het ’n groot treffer met “You raise me up” gehad en dis geen verrassing dat Rocco dit opgeneem het nie. Frank Mills se “Music box dancer” was ’n groot treffer, en gelukkig speel Rocco die gesinkopeerde note reg, anders as in ’n ander opname deur ’n ander kunstenaar wat die note op die ritme gespeel is. Volgens die musiek moet die note gesinkopeer wees. “Kort broek lang kouse” was die titelsnit van Rocco se laaste album, en dis ook ’n oorspronklike komposisie. Die Bert Kaempfert-komposisie “Spanish eyes” was ’n baie groot treffer vir verskeie kunstenaars, onder meer Engelbert Humperdinck en Al Martion, en Rocco se vertolking is baie goed.

“Halleluja” was ’n treffer vir Anneli van Rooyen; sy het dit self geskryf. Die volgende snit is ’n hoogtepunt: “Wat om te dra agter op ’n bakkie” was die treffer vanaf sy album Kort broek lang kouse; Rocco het dit gekomponeer nadat sy motor op pad na ’n vertoning gaan staan het en hy ’n geleentheid agter op ’n bakkie moes kry. “Amazing grace” is seker een van die heel bekendste liedere ter wêreld; en Rocco het ’n uitstekende vertoning daarvan opgeneem. “Nooit te laat om lief te hê” en “Reën kan jy nie koop nie”, is twee mooi oorspronklike komposisies. “The holy city”, ook bekend as Jerusalem, is egter natuurlik baie bekend, en Sergio Zampolli se trekklavier gee Rocco se opname ’n besondere klank. “Down by the riverside” is nog ’n baie bekende komposisie, en weer eens is Rocco se vertolking daarvan uitstekend. Daar kom ’n Hawaiise kitaar voor op sy weergawe van Patsy Cline se treffer “Crazy”; en dis seker gepas aangesien dit oorspronklik ’n country-liedjie was. Rocco het die bekende “Onse Vader”, soos dit in die Liedboek van die Kerk voorkom, in ’n sesmaat-tyd opgeneem, en dit klink baie goed. “Kla-1 kla-2 kla- 3 kla-4” is nog een van sy skitterende oorspronklike komposisies. Die laaste oorspronklike komposisie op die album is “Roccobilly”, wat vir hom ’n treffer geword het. “Chariots of fire” was die tema van die gelyknamige rolprent, en Vangelis het dit gekomponeer en gespeel. Die laaste twee snitte kom uit musiekblyspele, naamlik “Edelweiss” uit The sound of music en “Love changes everything” uit Andrew Lloyd Webber se Aspects of love.

Rocco het weer eens bewys hoekom hy dalk, nee vir seker, ons land se beste klavierspeler op die oomblik is. Hy handhaaf ’n goeie balans tussen bekende wysies en oorspronklike komposisies en sy vertolkings is byna sonder uitsondering uitstekend. Daarom kan hierdie album sterk aanbeveel word.