Vryheid en oorvloed, die jongste werk van dr. Carel Boshoff, voorsitter van die FAK-direksie, is op 15 Augustus tydens ’n ontbyt in die Kruger-galery by die Voortrekkermonument bekendgestel. Dié bekendstelling was ter afsluiting van die FAK se weeklange 150ste herdenking van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA).
Volgens Boshoff is dit ’n besondere voorreg “om ’n boek in Afrikaans, wat oor die groot vraagstukke van ons beskawingsgeskiedenis handel in GRA-week bekend te stel, want as dit nie vir die GRA was nie, het ons vandag nie oor die denkmiddele beskik om vraagstukke oor die ekonomie, kultuur, geloof en die lewe mee te takel nie. Ons voorgangers het die pad vir ons oopgemaak in Afrikaans.”
Tydens dié stylvolle samekoms het prof. Danie Goosen, filosoof en akademiese hoof van Akademia, en Boshoff, die kernidees van die boek onder die loep geneem.
Goosen, wat die gesprek gelei het, sien die boek as ’n logiese verlengstuk van die vraag “Wie is ons as Afrikaners?”, en as ’n oorspronklike poging om op die krisis van Afrikaneridentiteit te antwoord.
Die boek bestaan uit twee hoofdele. Die eerste deel bied ’n eerlike, soms uitdagende blik op die moeilike werklikheid waarin die meeste mense hul bevind. Ná hoofstuk vyf neem die toon ’n wending: die tweede deel, en veral die laaste drie hoofstukke, verken ’n alternatiewe werklikheid wat ewe reëel is, maar wat doelbewus gekies en betree moet word.
Die werk plaas die leser voor ’n duidelike keuse: om die lewe te benader vanuit ’n onbeperkte strewe na begeertes wat tot skaarste, ontevredenheid en selfs vervreemding kan lei; of om die werklikheid as ’n oorvloedige geskenk te sien wat dankbaarheid, sorg en ’n bouende ingesteldheid moontlik maak.
Vryheid en oorvloed is ’n uitnodiging tot ’n lewenshouding waarin die mens nie meer as heerser teenoor die wêreld staan nie, maar as deel van ’n gemeenskaplike skepping waarin betekenis, begrensing en betrokkenheid nuwe vryheid ontsluit. Dit is juis hierdie insig wat Boshoff se werk onderskei as iets veel meer as akademies: dit is kultureel transformerend. “Die boek se titel kon amper vir dieselfde moeite ‘Slawerny en skaarste’ gewees het, maar dit is nie, want ons is nie gevangenes van slawerny en skaarste nie. Ons is mense wat kan keuses maak en ons perspektief op dinge kan kies,” sê Boshoff.
Akademici aan die Universiteit van Pretoria, waar Boshoff self gestudeer het, het die werk geloof vir sy oorspronklikheid en diepte. Prof. Marinus Schoeman beskryf dit as pionierswerk wat die beste uit die verlede neem om die toekoms te bou, terwyl prof. Dieter Holm dit sien as ’n moet-lees wat besielde alternatiewe vir die moderne wêreld bied.
Vryheid en oorvloed is die vrug van jare se studie, refleksie en gesprek. Boshoff se werk is gewortel in ’n diep besorgdheid oor die moderne mens se verhouding met die werklikheid. Dit sluit aan by sy vorige publikasies soos Verder as vryheid, NP van Wyk Louw en die derde Afrikaner, en Tuiskoms en samehang, en bou voort op sy doktorale werk oor die “oorvloedige lewe as antwoord op die moderne skaarsheidsontologie.”
Volgens Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, het die boekbekendstelling ’n tasbare gevoel van waardering geskep – nie net vir die inhoud van die boek nie, maar ook vir die intellektuele moed en kulturele gesindheid waarmee dit geskryf is. Hy sê dat die bekendstelling ’n gedenkwaardige oomblik geskep het vir diegene wat opnuut die diepte van Afrikaanse denke wil ontdek – en daardeur iets van hulself en hul plek in die wêreld herontdek.
In ’n tyd waarin vooruitskouende diepgang in openbare diskoerse ontbreek en vryheid dikwels as selfgesentreerdheid gesien word, lewer Boshoff se jongste werk ’n vars en intellektueel diepgaande bydrae tot die Afrikaanse denkwyse.
“Met hierdie boek stel Boshoff nie net ’n filosofiese raamwerk voor nie; hy rig ’n uitnodiging aan elke leser om vryheid nie te sien as die afwesigheid van beperkings nie, maar as die teenwoordigheid van betekenis,” het Van Huyssteen gesê.

