Verlede jaar is ’n nuwe ster op die plaaslike musiektoneel “gebore” toe Demi Lee Moore die eerste, en tot dusver enigste, seisoen van die werklikheidsprogram Die kontrak gewen het.

Haar album, Mis eet slaap herhaal het gou ’n topverkoper geword , en nou het sy besluit om dit op te volg met haar tweede album, met die gepaste titel Country.

Die eerste snit op die album bewys dat sy nie net na die musiek wat gewoonlik oor die radio gespeel word, luister nie. Brooks and Dunn is ’n bekende country-sangpaar wat veral bekendheid in Suid-Afrika verwerf het met “Boot scootin’ boogie” en hul weergawe van BW Stevenson se treffer “My Maria”. Sy het egter besluit om een van hul ander treffers “Neon moon”, wat nie so gereeld oor die radio gehoor word nie, op te neem. Demi Lee sing dit in ’n laer toonaard as die oorspronklike kunstenaars en dit klink baie goed. Nog ’n relatief onbekende treffer wat sy ingesluit het, is “A long and happy life” van Delta Rae. Dit pas perfek by haar stem en ’n mens hoop dat die oorspronklike weergawe ook voortaan gereeld gespeel sal word. Daar is nóg so ’n voorbeeld op die album, maar meer hieroor later. “Queen of hearts” is nie Bad Boys Blue se liedjie nie, maar eerder Juice Newton se groot treffer van die vroeë 1980’s. “Because it’s love” was ’n groot treffer vir The Kelly Family, en is ook al deur ander kunstenaars opgeneem. Op “If I needed you”, wat oorspronklik deur Don Williams en Emmylou Harris gesing is, sing Arnold Coleske sing saam met haar. Arnold en sy ouer broer Ewald, is die grootbase van haar platemaatskappy, en hulle het lank laas nuwe musiek opgeneem. Dit het weer tyd geword vir ’n nuwe CD van hulle af. Hierdie snit is seker een van die mooistes op die album. Willie Nelson en Ray Charles het “Seven Spanish angels” aanvanklik opgeneem; een van Coleske se nuwe kunstenaars, Riaan Benade, sing dit saam met haar.

Dolly Parton se “Coat of many colours” het ’n gunsteling onder country-sangeresse geword en Demi Lee se weergawe daarvan is uitstekend. Een van die grootste country-treffers in die vroeë 1970’s was “Rose garden” van Lynn Anderson; Demi Lee se opname is een van net ’n paar wat daarna verskyn het. “Diane” kom uit Die kontrak; Monique Steyn was haar mentor en hulle sing dit saam. Dit is die ander voorbeeld van ’n nuwe opname van ’n bestaande liedjie wat ’n treffer geword het nadat dit deur ’n ander kunstenaar opgeneem is; Cam se oorspronklike opname het, sedert Demi Lee en Monique dit saam gesing het, radiolugtyd begin kry. Baie mense dink Ronan Keating het “When you say nothing at all” oorspronklik gesing. Die country-sangeres Alison Krauss was egter die oorspronklike kunstenaar. Steve Hofmeyr sing op hierdie liedjie saam met Demi Lee; Steve sing die wysie in die refrein en Demi Lee sing die harmonie. Sy kan dit baie goed regkry. “Help me make it through the night” was natuurlik ’n groot treffer vir Kris Kristoffersen, maar verskeie ander kunstenaars het dit al opgeneem. Toe Steve Hofmeyr en Demi Lee se weergawe van Don Williams se treffer “Amanda” die eerste keer verskyn het, het dit baie gewild geword, en dis maklik om te verstaan hoekom. Weer eens sing Demi Lee die harmonie; dit klink baie mooi. Die laaste snit is “Can’t help falling in love”, wat oorspronklik deur Elvis Presley gesing is. Demi Lee se opname is baie dieselfde as die oorspronklike een.

Die country-“puriste” sal seker hul monde uitspoel oor hierdie album; hulle sal seker kommentaar lewer soos: “is Demi Lee ‘n country-sangeres?” of “hulle spring maar net op die lawaaiwa.” Die beste is om hierdie opmerkings met ’n knippie sout te neem, want country pas uitstekend by haar. Sy het beslis die stem daarvoor en sy het die snitte op die album baie goed gekies. Die feit dat dit dadelik so gewild geword het, behoort niemand te verbaas nie; ’n mens hoop egter dat sy gou weer ’n oorspronklike Afrikaanse album sal opneem. Intussen is hierdie album die moeite werd.