David Walliams, gebore in Londen, Engeland, is ’n besondere talentvolle kinderboekskrywer.

As jy wonder hoekom sy gesig so bekend lyk, is dit waarskynlik omdat jy hom al in ’n film of twee gesien het.

Walliams dra verskeie hoede. Hy is ’n skrywer, akteur, komediant en TV-persoonlikheid wat jy waarskynlik al in ’n fliek soos Stardust (2007) of Murder Mystery (2019) gesien het. Hy kan gereeld op die televisieskerm gesien word as die aanbieder van een of ander program en was selfs een van die beoordelaars op Britain’s Got Talent!

Hy het ’n string kinderverhale agter sy naam en is na Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys. Die boeke is skreeusnaaks en vertel van absurde avonture wat jou onmiddellik aangryp.

Hier is maar net drie van sy meer onlangse boeke wat verseker op jou leeslys vir die vakansietyd moet kom.

Uitgegee deur Protea Boekhuis.

Illustrasies is deur Tony Ross gedoen.

Die Telegraph beskryf Walliams só: “Uiteindelik ’n waardige opvolger vir Dahl.”

David Walliams

Slym (2022)

Welkom op die eiland Molm …

Hierdie eiland is die tuiste van ’n groot groep gemene grootmense. Die skool, die park, die speelgoedwinkel en selfs die eiland se roomystrokkie behoort aan gruwelike grootmense wat dit terdeë geniet om kinders aaklig te laat voel. En die eiland word besit deur die gruwelikste grootmens van almal – tannie Frieda Vraat!

Iemand moet iets aan die saak doen.

Maar wie sal dapper genoeg wees?

Ontmoet Ned – die buitengewone seun met ’n spesiale superkrag: SLYMKRAG!

Die Gedierte in die Gange (2022)

Brittanje

’n Honderd jaar van nou af.

Londen lê in puin, die mense is honger en die hele koninkryk is in stikdonkerte gehul. Prins Alfred, ’n tingerige boekwurm, het nog nooit die veiligheid van Buckingham-paleis verlaat nie. Toe Alfred se geliefde ma, die koningin, na die Londense Tower weggesleep word, moet die seun al sy moed bymekaar skraap om op ’n epiese avontuur te gaan, sodat hy haar – en die hele wêreld – kan red.

Reis vooruit in tyd en geniet hierdie fantastiese avontuur – ’n storie vol mites wat jou tot reg aan die boeiende einde vasgenael sal hou.

Kodenaam Piesangs (2023)

1940. Brittanje voer oorlog teen Nazi-Duitsland.

Die elfjarige Eric bring die meeste van sy dae deur in die plek wat hom die gelukkigste maak: die Londense dieretuin.

En daar is een dier wat hy ontsaglik liefhet: Gertrude die gorilla. Terwyl daar oral in Londen bomme val, moet Eric vir Gertrude red. Saam met sy oom Sid, ’n opsigter by die dieretuin, vlug Eric en Gertrude. Maar terwyl hulle in ’n seedorpie wegkruip, vlek hulle ’n hoogs geheime Nazi-komplot oop …

Kodenaam Piesangs is ’n grilsnaakse en aksiebelaaide avontuur vir die hele gesin.