Dit gebeur nie aldag dat ’n klassieke mezzo-sopraan tot die ligte musiekbedryf toetree nie, maar dit is presies wat Michelle Grace met haar jongste enkelsnit gedoen het.

Die snit wat sy gekies het, is “Ek glo in jou”, geskryf deur niemand minder nie as Rudi Claase. Dit is ’n snit met ’n Christelike inslag, en die boodskap daarvan is dat ’n mens nooit moet ophou om in hom-of haarself te glo nie en dat God altyd in ’n mens sal glo. Sy vertel dat die lied oor haar pad gekom het toe sy deur ’n moeilike tyd gegaan het; haar geloof het gewankel en hierdie lied het haar gehelp om weer te glo.

Michelle se stem stel haar in staat om ’n verskeidenheid musiekgenres, van opera en klassieke musiek tot ligte musiek en kontemporêre Christelike musiek aan te pak. Haar oupa was ’n operasanger, en sy oupa ook. Sy was deel van die Christelike kindergroep Willie en die Wenspan en het sanglesse by haar oupa geneem om haar tegniek te vervolmaak.

Sy was al te sien in televisieprogramme soos JAM, Jukebox, Glitterati en DKNT en in 2012 is sy deur Bok Radio benoem vir die Bokkie-toekenning as die beste opkomende kunstenaar. Sy is tans besig om aan haar musiekvideo te werk, asook ’n nuwe album.