Daar was tot dusver min kunstenaars wat dit reggekry het om gemaklik tussen kommersiële en Christelike Afrikaanse musiek te beweeg en steeds geloofwaardig in albei genres te wees.

Een daarvan is Christelle Combrink, wat onder die verhoognaam KrissTel twee Christelike albums uitgereik het en deel van die lof-en-aanbiddingsgroep Duis-Lig is. Twee jaar gelede het sy haar toetrede tot die kommersiële Afrikaanse mark gemaak, haar verhoognaam na Stella verander en haar album Nuwe môre vrygestel. Die titelsnit en “Deur die liefde en die seer” het treffers geword, en nou is sy terug met haar tweede kommersiële album, Ek kies jou.

Die titelsnit is regtig iets besonders; sy het dit saam met Jake Odendaal, die regisseur van die album, en Michael Lindt geskryf. Dit sal byval vind by enigiemand wat vir seker weet dat hulle die regte persoon gevind het en bereid is om enduit by dié persoon te bly, onder watter omstandighede ook al. “Skree” was onlangs ’n treffer; dis maklik om te verstaan hoekom. Enigiemand wat al moedeloos en magteloos gevoel het, sal daarby aanklank vind. Stella en haar man woon op ’n plaas naby Carolina in Mpumalanga, en op “Hierdie stukkie aarde” sing sy daarvan. Die kitaarwerk op hierdie snit is uitstekend. Stella speel trekklavier op haar weergawe van Anton Goosen se treffer “Kruidjie-roer-my-nie”; haar weergawe is seker die beste een naas Anton se oorspronklike een wat tot dusver vrygestel is. Op “Ek is ryk” span sy saam met Adam Tas; hy sing saam met haar en dié snit het ook op Adam se jongste album voorgekom. Dis lekker om twee sulke talentvolle kunstenaars saam te hoor sing! “Sing vir jou” is ’n hoogtepunt; Jake Odendaal se kitaarwerk is uitstekend. “Wêreld deur jou oë” is beslis ’n snit met trefferpotensiaal. Twee snitte vanaf haar vorige album is weer ingesluit, naamlik “Nuwe môre” en “Die berge blou”. Dit is nie regtig ’n probleem nie, want dit stel mense wat haar musiek nou eers leer ken, daaraan bloot. “Dagbreek” is dalk een van die beste snitte vanaf die album; dit verdien om ’n treffer te word. “Hoop in liefde” is ’n snit wat sy self geskryf het en weer eens is dit ’n uitstekende snit.

Daar is drie Engelse snitte op die album; die eerste hiervan is “Carry you”, wat sy saam met Jake Odendaal geskryf het; hierdie snit is dalk die naaste aan ’n Christelike liedjie op die album en daar is niks daarmee verkeerd nie. “Wonderwerk” is ’n baie mooi snit waarop Stella klavier speel. “Uit die mond van ’n boom” is ’n interessante snit; dit vertel die lewensverhaal van ’n boom. Sy sing in die eerste persoon, wat die snit nog meer besonder maak. “Suid-Afrika” is ’n lekker patriotiese snit wat beslis ’n treffer moet word! Gelukkig het die lirieke nie ’n politieke strekking nie; dis eerder ’n seëngebed vir ons land. Dis dalk die beste snit op die hele album; dit kan ook maklik vir ’n koor verwerk word. “Onthou jy nog” is ’n nostalgiese snit wat jou sal laat verlang na jou kinderdae. “Words” is die tweede Engelse snit wat sy self geskryf het. “Seëngebed vir mans” is nog een van haar eie komposisies; elke man sal vir haar dankie sê hiervoor. Daar is drie bonussnitte op die album; die eerste een is “In die storm”, wat sy vir Roep TV opgeneem het. Die akoestiese weergawe van “Nuwe môre” is dalk selfs beter as die oorspronklike een. Die laaste snit, haar derde Engelse komposisie, is “Favored”. Sy speel self klavier daarop, en hoewel dit die laaste snit is, hoop ’n mens dat dit nie ’n weggooisnit sal word nie.

Stella het weer eens bewys dat sy een van ons land se voorste vroulike kunstenaars is. Sy is ’n uitstekende sangeres, musikant en liedjieskrywer en ’n mens sal nog jare lank na haar kan luister. Dit is ’n skitterende album wat nie sterk genoeg aanbeveel kan word nie; dit hóórt in jou CD-versameling!