Een van die hoogtepunte van Desember is dat daar weer tyd is – die meeste afsluitingsfunksies is afgehandel, die kinders is klaar met eksamen – en dit is die Gelofteweek-feesvieringe by die Voortrekkermonument!

Van 8 tot 16 Desember word die jaarlikse Gelofteweek-feesvieringe by die Voortrekkermonument aangebied. Die program is tot 22:00 saans aan die gang, so dié wat nog moet werk, kan ook in die pret deel.

“Dit is die beste Gelofteweek-program wat nog aanmekaar gesit is, wat oud en jonk sal vermaak. Ons nooi mense van naby en ver om hierdie week saam met ons te kom geniet,” sê Henk Maree, bedryfshoof van die Voortrekkermonument.

Waarna kan jy uitsien?

Kuns, kultuur en vermaak

Groot kunstenaars soos Bernice West, Elandré, Jay du Plessis, Liezel Pieters, Rikus Nel en Juanita du Plessis gaan optree. Verskeie jong kunstenaars gaan ook ’n beurt op die verhoog kry.

“Daar is toneelstukke soos Liewe Heksie en komedies soos Dinner for one. Daar is ander lekker stukke ook soos Op die plaas en meer en ernstige stukke, wat met ’n mens sal praat, soos Omwenteling waar Johan Scholtz die eenmanstuk opvoer. Die Pro Patria Museum (PPM) se toneelstuk, Van Bloedrivier tot Bosoorlog, beeld die Afrikanergeskiedenis so mooi uit,” sê Maree.

Verder is daar ook klassieke uitvoerings soos Kersang by Kerslig.

“Mense moet net onthou dat hulle eers algemene toegangskaartjies moet koop en dan ook die kaartjie vir die spesifieke toneelstuk of kunstenaar se konsert wat hulle wil kyk. Die algemene toegangskaartjie gee jou toegang tot al die stalletjies en al die aktiwiteite wat die publiek kan geniet, waar daar nie enige ander toegangsgelde gevra word nie,” sê Maree.

Aktiwiteite vir die kinders

Daar word ook in hierdie week heerlike aktiwiteite vir die kinders beplan. Daar is onder andere ’n Liewe Heksie-toneel en die FAK hou weer ’n poppekas. Kinders kan ook pretaktiwiteite by die Pioniersentrum geniet, soos boeresport, plaaswerfdag en handwerkaktiwiteite.

Aktiwiteite vir die gesin

Wat is ’n Desember sonder ’n Kersmark? Deur die loop van die fees is daar ’n Kersmark met meer as 200 stalletjies en natuurlik sal daar weer kosstalletjies wees. Skool op Wiele Koffiehuis en Uitspan Restaurant het ook deur die loop van die fees spesiale etes en promosies waar jy jou honger kan stil.

Die Gelofte gaan ook elke aand om 19:00 (met sonsak) in die Lewende Laer afgelê word. Hierdie is beslis ’n unieke geleentheid om by te woon.

Hierdie moet jy beslis nie misloop nie!

Die Voortrekkermonument bied tydens Gelofteweek  spesiale nagtoere aan. Daar is net 35 plekke per toer beskikbaar, so maak seker om jou plek betyds te bespreek!

Besprekings om die Toekomsbou Museumteater te kyk in Gelofteweek sal elke dag tot laat oop wees vir instapbesprekings. Hierdie permanente interaktiewe teater by die Erfenisstigting is ’n belewenis en ons nooi elkeen uit om te kom kyk.

Die PPM het ’n spesiale Wynproe wat by Fort Schanskop sal plaasvind en daar is ook ’n gratis Gin-demonstrasie in die Kruger-galery.

Daar is nog vele meer aktiwiteite en daar is ’n program vir elke dag uitgewerk. Hou die Voortrekkermonument en FAK se sosiale media dop vir meer en interessante inligting.

“Vanjaar is ’n spesiale Geloftejaar, want dit is die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek en die Gelofte. Ons vier die Gelofte, nie uit kritiek nie, maar uit ons Christelike kultuur,” sê Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

Die Voortrekkermonument het dit goedgedink om die mense wat hierdie dag bywoon se name te verewig in ons argief. Hierdie persone se name sal ook in ’n tydkapsule kom wat met die 200 herdenkingsjaar van die Groot Trek oopgemaak sal word. Ons wil mense aanmoedig om elkeen in hul gesin se name te registreer.

Verlede jaar het ongeveer 20 000 mense Geloftedag by die Voortrekkermonument bygewoon. Langner is hoopvol om vanjaar selfs meer mense te ontvang.

“Ons hoop om die amfiteater vanjaar tydens Geloftedag vol te pak tot sy volle kapasiteit van 44 000 mense,” sê Langner.

Registreer jou en jou gesin se plek vir Geloftedag, en koop jou Gelofteweek-kaartjie hier: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/.