Sommige kunstenaars stel elke jaar, of dalk elke twee jaar, nuwe musiek vry terwyl ander hul aanhangers langer laat wag.

Een van laasgenoemde kunstenaars is Gerrie Pretorius, wat sewe jaar gelede sy laaste album uitgereik het, en nou weer besluit het dat dit tyd was vir ’n nuwe een. Gerrie was die laaste tyd hoofsaaklik ’n televisieaanbieder en veral Leef jou reis het ’n baie gewilde program op kykNET geword; tot so ’n mate dat hy hom met omtrent niks anders besig gehou het nie. Nou is hy egter terug met sy jongste album, Jou hart is weer myne en die vraag is of hy dieselfde sukses as in die verlede sal behaal.

Die eerste snit gee ’n mens ’n idee van wat om te verwag. Die laaste paar jaar van sy sangloopbaan het Gerrie baie tyd in Europa deurgebring; dit het ’n baie groot invloed op sy musiek gehad. “Hey June” is oorspronklik deur Kobus Muller gesing. Kobus word in die omslagaantekeninge as die enigste komponis genoem, maar dis nie waar nie. Kobus het net die Afrikaanse woorde geskryf en op sy laaste album ook die oorspronklike Duitse weergawe, “Hey Du”, opgeneem. Die tweede snit is ’n hoogtepunt: Caroline-Grace het een van ons land se voorste opkomende kunstenaars geword nadat sy aan die tweede reeks van The Voice deelgeneem het en sy sing “Jy’s altyd daar” saam met hom. Gerrie het die woorde daarvoor geskryf. Die titelsnit was die enigste Afrikaanse liedjie deur ’n buitelandse kunstenaar wat Springbok Radio se Top 20 kon haal; die Nederlandse sanger Heintje Simons het dit reggekry. Sedertdien het te veel kunstenaars, onder meer Bles Bridges, Steve Hofmeyr en Romanz dit opgeneem. Gerrie se opname is egter een van die bestes tot dusver. Hy begin die liedjie by die refrein sing soos dit hoort, en nie by die eerste vers soos wat ’n paar kunstenaars dit al gedoen het nie. Hy sing die woorde ook heeltemal reg.

Placido Domingo se eerste tree in die rigting van ligte musiek was “Perhaps love”, wat hy saam met John Denver gesing het. John Denver het die liedjie geskryf ook ’n solo-opname daarvan gemaak. Dis eintlik snaaks om weer ’n soloweergawe daarvan te hoor; dis presies wat Gerrie gedoen het. Die oorspronklike een was in 1982 op Springbok Radio se Top 20; ’n liedjie wat kort daarna op dié trefferslys was, was “A bunch of thyme”, wat oorspronklik deur Foster and Allen gesing is. Gerrie het dit ook op hierdie album ingesluit. “Ek huil alleen” is een van die moontlike treffers vanaf die album; Gerrie het die woorde daarvan geskryf. Daar is twee keurspele op die album; die eerste een bevat twee van sy eerste treffers, “Grootste wens” en “Duifie van die see”. “Die hele wêreld moet dit weet” is nog ’n snit waarvoor Gerrie die woorde geskryf het. Hoewel Jim Reeves reeds in 1964 oorlede is, is sy musiek onsterflik, en hierdie keer het Gerrie besluit om “I won’t forget you”, die treffer ten tyde van Jim Reeves se noodlottige vliegongeluk, in te sluit. Nog ’n klassieke treffer wat kort daarna vrygestel is, is “Edelweiss”, uit die musiekrolprent The sound of music. Lynelle Kenned sing dit saam met hom. Rudi Claase het “Vrou van my drome” geskryf; dit behoort ’n treffer te word. Die laaste snit op die album is ’n Platinum-danskeurspel wat uit “Annamarie”, “Sewe sondes” en “Lekkerste lyfie” bestaan.

Gerrie het weer vir sy aanhangers gegee presies wat hulle wou gehad het; daarom behoort hy dieselfde sukses met hierdie album te behaal as in die verlede.