Sy is nie net ’n sangeres nie, maar ook ’n model, televisieaanbieder, aktrise en gekwalfiseerde prokureur.

Ons het vir Leah, wie se regte naam Leani van Niekerk is, leer ken toe sy haar vrolike debuut-enkelsnit “Met jou klere aan” vrygestel het, maar sedertdien het sy gewys dat daar baie meer in haar steek. Haar debuutalbum, Wonderwerk, het baie gewild geword en is later heruitgereik. Nou is sy terug met haar nuwe enkelsnit, vanaf haar tweede album.

“Kyk na my” is egter iets anders as “Met jou klere aan”; dit is ’n ballade wat deur Johan Vorster en Karen Zoid geskryf is. Dit gaan oor die feit dat almal op ’n tydstip in hul lewe op ’n weerlose plek kom, maar dat daar ook altyd hoop is.

Leah vertel dat sy dadelik aanklank by die liedjie gevind het omdat sy self al deur moeilike tye gegaan het, maar nog altyd iemand gehad het wat haar weer in haarself laat glo het. Johan en Karen het vorendag gekom met ’n liedjie waarmee almal hulle kan vereenselwig.

Die musiekvideo is deur Daniel Rademeyer en Jannes Erasmus verfilm; die hoofkarakter is ’n pragtige jong meisie wat aan kanker ly; sy gaan deur hel, maar ’n spesiale persoon laat haar weer sien hoe waardevol sy is en aanvaar haar net soos sy is. Dit is ’n wonderlike storie, waarin hy haar telkens weer kies.

Leah se nuwe album is in September uitgereik.

KLIK hier om na die video te luister.