Hoewel Valeska Muller se eerste Afrikaanse album teen die einde van 2019 vrygestel word, is sy glad nie ’n nuweling in die vermaaklikheidsbedryf nie.

Sy was agtien jaar oud toe sy aan die program Zing op kykNET deelgeneem het en later het sy ook in ’n aantal verhoogproduksies opgetree. Daarby was sy as aktrise in Binnelanders, Roer jou voete op SABC 2 en One Way op eTV te sien. In 2014 het sy drie Engelse snitte opgeneem, en sedertdien het sy ’n akademie vir sangopleiding begin.

Nou het haar eerste Afrikaanse album, My simfonie, verskyn, en sy het elke snit op die album saam met Tertius Jacobs geskryf, en met die titelsnit kom ’n mens reeds agter dat sy nie sommer ’n doodgewone Afrikaanse sangeres is nie. “Verlange van jou” was een van die enkelsnitte van die album, en het ’n treffer op verskeie radiostasies geword. Sy is ewe gemaklik in ’n lae en hoë register. “Jy vat alles” is nog ’n uitstekende snit wat ’n treffer kan word. Hoewel dit, soos baie ander snitte op die album, op die dansvloer gemik is, kan ’n mens daarna luister. Sean Butler het “Verdwaal saam met jou”, saam met Valeska en Tertius geskryf. Dit was die eerste Afrikaanse liedjie wat sy opgeneem het. Nog ’n snit wat reeds ’n treffer geword het, is “Skyn jou liggie vir my”. “Naby my naby jou” is ’n mooi snit wat ’n treffer kan word. Die reggae-agtige ritme van “Daar waar ons staan” is iets besonders. Die boodskap van “Vergeet van als” word dalk effens deur die musiek oorskadu, maar sommige mense moet dit hoor, want dit gebeur gereeld dat verhoudings verbrokkel of tot ’n einde kom.

“Hou jou mond en dans” is onbeskaamd op die dansvloer gemik en daar word van baie ateljeetegnieke gebruik gemaak. Dit sal nie vir die teikengehoor ’n probleem wees nie. “Hallo hallo” is ’n baie mooi snit wat beslis ’n treffer behoort te word. “Wat’s jou storie?!” is ’n dwarsklap na mans wat te veel van hulself dink. “Dis net wie jy is”, is een van die rustiger snitte op die album. “Woestyn van herhaal” is ’n goeie snit, maar die klem op die woord “woestyn” is op die verkeerde lettergreep. Gelukkig gebeur dit net hierdie een keer. “’n Traan voor jy gaan slaap” is een van die rustiger snitte op die album. Daar is drie Engelse snitte op die album; “More than ever” is ’n Engelse vertaling van “Verlange van jou” en behoort ’n treffer in eie reg te word. “Keep up” was een van die eerste Engelse snitte wat sy opgeneem het, die kitaarwerk is uitstekend en sy speel baie goed met haar stem. “Be myself” is onbeskaamd op ’n jong gehoor gemik, en nie almal sal hou van hoe sy sekere note “scoop” nie. Die laaste snit op die album is “Roekeloos” en weer eens word daar van heelwat ateljeetegnieke gebruik gemaak. Haar stemkwaliteit is egter baie goed, en hierdie snit verdien om radiolugtyd te kry.

Hoewel hierdie album hoofsaaklik op die jongklomp gemik is, is daar genoeg snitte wat by ’n groter gehoor byval sal vind. Dit sal beslis nie in almal se smaak val nie, maar dit maak vir ’n verandering nie saak nie, want daar is oorgenoeg goeie snitte om die album die moeite werd te maak.