Dit gebeur nie altyd dat kunstenaars wat in hul tienerjare tot die musiekbedryf toetree, volgehoue sukses behaal nie, maar die kitaarduo, Die Ventertjies, het sedert hul debuut vyf jaar gelede bewys dat dit moontlik is.

Nicola en Lindie-Lee Venter bespeel onderskeidelik die hoof- en baskitaar en tot dusver het hulle hoofsaaklik staatgemaak op ’n gestroopte kitaarklank sonder enige bykomende musikante. Met hul vierde album, Roer jou voete, het hulle egter hiervan afgewyk.

Die eerste snit, “Ratkas-vastrap”, is ’n komposisie van Nicola, en hier kan ’n mens reeds agterkom dat hulle met ’n nuwe klank vorendag gekom het. Die tromme op hierdie snit maak reeds ’n groot verskil. “Warmvat” was ’n treffer vir Klipwerf-Orkes, en is deur die enigste oorblywende stigterslid, Kobus Visagie, geskryf. Op hierdie snit word tromme, ’n banjo en ’n tamboeryn gebruik, en dit klink sommer baie goed. Die Ventertjies speel nie net Afrikaanse of inheemse musiek nie; die “Cowboy”-keurspel bestaan uit ’n aantal country-liedjies naamlik “Your man” van Josh Turner, “Maggie” van Foster and Allen, “Don’t fly too high” van Joanna Field, “You ask me to” van Bobby Angel en “Rhinestone cowboy” van Glenn Campbell. Hierdie liedjies is feitlik almal ouer as hulle self, maar hul vertolking daarvan is uitstekend. Nico Carstens se bekende komposisie “Zambezi” was ’n internasionale treffer en Die Ventertjies se opname is die eerste een wat in ’n baie lang tyd verskyn het. Onder die ander kunstenaars wat dit al opgeneem het, was Bert Kaempfert, The Shadows en die trompetspeler Eddie Calvert. Die Ventertjies se opname hoef glad nie vir een van hierdie weergawes terug te staan nie. “Waltzing Maria” was ’n baie groot treffer vir BZN, en Die Ventertjies sal mense vinnig op die dansvloer kry met hul weergawe daarvan. Die “Ou waenhuis” is seker die bekendste Boeremusiek-komposisie tot nog toe en Japie Laubscher se bekendste komposisie tot dusver. Dis eintlik snaaks om dit op enigiets anders as ’n konsertina te hoor, maar dit klink fantasties. Nicola se tweede bydrae as komponis is “Setees met gees”; sy kan gerus meer gereeld oorspronklike wysies komponeer, en ’n mens kan net dink hoe goed dit sal klink as ’n Boereorkes met ’n konsertina dit sou speel. Die kitaarwerk op hul weergawe van Pussycat se treffer “Teenage queenie” is eenvoudig skitterend.

Tot dusver het Die Ventertjies niks anders as instrumentale snitte opgeneem nie, maar op hul weergawe van Bille Jo Spears se treffer “Blanket on the ground” het hulle vir ’n reuse verrassing gesorg. Lindie-Lee sing op hierdie snit; sy wys dat sy nie net goed kitaar kan speel nie maar ook ’n mooi sangstem het. Hopelik sal dit meer gereeld op toekomstige albums gebeur. Op “Hartbeesfontein” word ’n konsertina gebruik; dit pas natuurlik baie goed by hul musiek en miskien behoort ’n konsertinaspeler meer gereeld saam met hulle op te tree. “Lekker ou Jan” is deur tant Grietjie van Garies geskryf en was ’n groot treffer vir Worsie Visser. Die Klipwerf-Orkes het die eerste instrumentale weergawe daarvan opgeneem, maar Die Ventertjies se opname is dalk selfs beter. Ricardo Bornman was een van ons land se voorste kitaarspelers en Die Ventertjies het al voorheen van sy komposisies ingesluit, veral “Lentevrolikheid” wat ’n treffer in eie reg vir hul geword het. Hierdie keer kom “Kan nie kla nie” aan die beurt, en hul weergawe is skitterend. “Die hartseerwals” was ’n treffer vir Gé Korsten maar is ook al deur Boereorkeste opgeneem.

Die laaste snit is nog ’n verrassing. Fatman, wie se regte naam Johan Brummer is en wat al twee CD’s opgeneem het sedert hy aan The Voice deelgeneem het, sing saam met hulle op die “Jive Bunny-boerekeurspel”. Dit is geïnspireer deur Jive Bunny and the Mastermixers se treffer “Swing the mood” van die laat 1980’s. Dit is ’n lekker keurspel van rock and roll-treffers, naamlik “Rock and the clock” van Bill Haley and the Comets, “Let’s twist again” van Chubby Checker, “Wake up little Suzie” van The Everly Brothers, “Hound dog” van Elvis Presley, “Shake, rattle and roll” van Jerry Lee Lewis, “All shook up” en “Jailhouse rock” van Elvis Presley. Selfs David Kramer se “Meisie sonner sokkies” is hier ingesluit. Dit is ’n snit wat die dansvloer vinnig sal volmaak.

Die Ventertjies moet gelukgewens word met ’n skitterende album; nie net die beste oorwegend instrumentale album van die afgelope jaar nie, maar ook hul beste album tot dusver. Jy kan eenvoudig nie stilsit terwyl jy daarna luister nie!

Luister gerus na Jive Bunny Boerekeuspel – https://www.youtube.com/watch?v=2YCpK_runV4