Nadat hy groot sukses as deelnemer aan The Voice SA behaal het, het Fatman se eerste album, Boom baby, in 2017 verskyn.

Fatman, wie se regte naam Johan Brummer is, het jare se ondervinding in die musiekbedryf; hy het lank saam met Pieter Smith opgetree en eers in sy vroeë veertigerjare werklik die publiek se aandag op hom gevestig.

Nou is hy terug met sy jongste album, S.O.S, en die vraag is of sy gewildheid verder gaan toeneem. Die titelsnit is reeds ’n treffer op verskeie radiostasies en die musiekvideo daarvan word gereeld gespeel. Hierin sing hy van ’n man wat vir sy geliefde vra om sy nood te hoor en haar syne te maak. “Esmeralda” is ’n baie goeie snit wat deur Fredi Nest geskryf is; hierin sing hy van ’n vrou wat ’n man aanvaar net soos hy is. “Vuurwarm” is glad nie onbekend nie; Warren Elliott het dit oorspronklik gesing. Nugter weet wat van Warren geword het; miskien sal die publiek van dié liedjie kennis neem noudat Fatman dit opgeneem het. Met hierdie liedjie bewys hy dat hy ewe gemaklik in ’n hoë en lae register kan sing.

Nog ’n baie goeie snit op die album is “Jy is”, maar hoe minder ’n mens van die volgende snit sê, hoe beter. Dit is moeilik om te verstaan hoekom dit nodig was om “Ek en my meisie”, ’n platvloerse verminking van Chris Andrews se groot treffer “Pretty Belinda”, op te neem. Dit is die enigste snit op die album waarna ’n mens nie eintlik kan luister nie, maar dit behoort nie ’n mens se algehele indruk van die album te beïnvloed nie. “Dorp toe” was sy eerste enkelsnit; dit is weer ingesluit vir diegene wat dalk sy eerste album misgeloop het. “Manne ding” sal byval by die “alpha males” vind; die lirieke sal die meeste mense laat lag. “Hengel by die huis” val in baie dieselfde kategorie; vroue wat gefrustreerd is met hul mans wat lief is vir visvang, sal dalk moeilik hiervoor lag. Kurt Darren se treffer “Kaptein” is lank al holrug gery, maar Fatman se verwerking daarvan, saam met The Parlotones se hoofsanger Kahn Morbee wat ook sy mentor in The Voice was, maak dat ’n mens van voor af daarna kan luister. Nog ’n bekende treffer wat hy ingesluit het, is Lucas Maree se “Ek sou kon doen met ’n miljoen”. Die titelsnit van sy eerste album, “Boom baby”, is ook weer ingesluit. “Laat ons smyt” is ’n baie lekker snit wat ook op sy eerste album voorgekom het. Hy het “Sonneblomgesiggie” vir sy kinders geskryf; hierdie liedjie het vir hom spesiale betekenis. Caroline-Grace was saam met Fatman in The Voice en haar debuutalbum het haar as kunstenaar gevestig en sedert The Voice het hulle gereeld saam begin optree. Hulle sing Jannie du Toit se treffer “’n Liedjie vir jou” saam; dit kom ook op haar album voor. Hulle werk goed saam en hierdie opname van ’n legendariese Afrikaanse liedjie is uitstekend. Die laaste twee snitte op die album is keurspele van die musiek van Gé Korsten en Elvis Presley onderskeidelik.

Die feit dat Fatman op ’n relatief hoë ouderdom sukses behaal het, is ’n bewys dat dit nooit te laat is om ’n deurbraak te maak nie; hy weet presies waaroor die lewe gaan en hy het nou al die stadium bereik wat ’n mens nugtere besluite kan neem sonder om naïef te wees. Hierdie album bewys sy veelsydigheid sonder enige twyfel, en behoort hom nog verder in die musiekbedryf te vestig.