Sedert Dewald Gouws se debuutalbum, Verhaal van glorie, omtrent tien jaar gelede vrygestel is, het hy een van ons land se voorste sangers van kontemporêre Christelike musiek geword.

Nadat hy twee albums as deel van die groep Manne wat glo opgeneem het, het hy besluit om weer op sy loopbaan as solokunstenaar te konsentreer en sy jongste album, Staan op, het onlangs verskyn. Die eerste snit op die album, “Winde van verandering”, is een van ’n hele aantal snitte wat hy self geskryf het. Die titelsnit gee ’n mens hoop wanneer dit lyk asof dinge verkeerd loop. “Nuwe begin” is ’n vrolike snit waarop Ricus Nel banjo speel. “Vensters van jou siel” is nog een van Dewald se eie komposisies en sy boodskap is dat almal seer in hulle dra. Dit is nie die eerste keer wat hy hierdie snit opneem nie. Daar is drie lang keurspele op die album; die eerste een is die “Ons is almal hier tesaam-keurspel”. Die eerste lied wat deel daarvan uitmaak, “Ons is almal hier tesaam”, wat in die Liedboek van die Kerk ingesluit is, maar Dewald sing die woorde uit die Jeugsangbundel, asook ander woorde op hierdie wysie. Hy is ewe gemaklik in ’n lae en ’n hoë register, hoewel hy eintlik ’n tenoor is. Die volgende lied is ook uit die Liedboek, naamlik “God is hier teenwoordig”. Die derde en vierde liedere is nie so bekend nie; dalk word dit in charismatiese denominasies gesing; dit is “Ons sing hosanna” en “Ons aanbid U”. “Hoe groot is ons God” is ’n Afrikaanse vertaling van Chris Tomlin se bekende lied “How great is our God”. “Let go, let God” is ’n lied wat Dewald self geskryf het. Loyiso Bala, wat saam met sy broers sing en in sy jong dae deel van die Drakensbergse Seunskoor was, sing saam met Dewald op “But God”; die boodskap is dat ons op God moet staatmaak.

“Chain breaker” is ’n komposisie van Zach Williams; dié snit het reeds in 2016 die eerste keer verskyn, maar dit sal dalk nog onbekend wees. Dis egter baie mooi en behoort eintlik gewild te word. “Even if” is oorspronklik deur Mercy Me gesing. Die volgende snit is seker die grootste kontemporêre Christelike treffer van die afgelope tyd; “You say” is oorspronklik deur Lauren Daigle geskryf en het gou gewild geword. Daarom is dit goed dat ’n plaaslike kunstenaar dit opgeneem het. Die volgende keurspel bestaan uit aanbiddingsliedere waarvan “Here I am to worship” die eerste een is. Nog ’n bekende lied wat deel daarvan uitmaak, is “What a beautiful Name”. Dis ook wonderlik om Matt Redman se asemrowende mooi “10 000 reasons (Bless the Lord oh my soul)” as deel van hierdie keurspel te hoor. Juanita du Plessis se “Ons Koning kom” is een van daardie liedere waarvoor ’n mens nooit moeg sal word nie. Die laaste snit is ’n loflied-keurspel wat tydens ’n Mighty Men-konferensie opgeneem is. “Almal wat die Here liefhet”, is die eerste lied wat deel daarvan uitmaak. Die hele lied bestaan uit bekende lofliedere in Afrikaans en Engels en almal sal lekker saamsing.

Met hierdie album het Dewald bewys dat hy kontemporêre Christelike musiek asook lof-en-aanbiddingsmusiek ewe goed kan sing. Daarom is daar iets vir elke Christen-musiekliefhebber se smaak; ongeag jou denominasie of agtergrond. Hierdie album kan beslis aanbeveel word vir enigiemand wat van kontemporêre Christelike musiek hou.