Sedert sy meer as tien jaar gelede haar eerste Christelike album onder die naam Réana vrygestel het, het Riana Nel een van ons land se voorste kunstenaars geword.

Na ’n lang stilte, en nadat sy getroud is en ma geword het, is sy eindelik terug met haar vierde kommersiële album, Sterker. Die eerste snit, “Hou die hemel oop” is, soos feitlik al die ander snitte op die album, haar eie komposisie, en enigiemand wat al ’n geliefde aan die dood afgestaan het, sal hulle met die woorde kan vereenselwig. Die Mzansi Youth Choir sing saam met haar op hierdie snit. Dit is ook die eerste enkelsnit en het reeds baie radiolugtyd begin kry. “Niemand” is nog ’n hoogtepunt op die album; dit kan ook ’n treffer word en weer eens kan baie mense hulle met die woorde vereenselwig. “Dit beter maak” is nog ’n snit wat Riana self geskryf het, en hierin sing sy van die verskil wat mense in die wêreld kan maak. In “Kyk na my” sing sy van ’n vrou wat net wil hê dat iemand haar net ’n kans sal gee. Die titelsnit is beslis ’n moontlike treffer, dit gaan oor iemand wat beter is sonder die persoon wat sy eens liefgehad het. Ruhan du Toit, wat voorheen deel van Touch of Class was en besluit het om ’n solo-loopbaan te volg, sing saam met Riana op “Moenie”. Ruhan het al bewys dat hy enige tipe musiek kan sing. “Ek voel vir jou” is dalk een van die beste snitte op die album; veral die kitaarwerk is baie goed. “Ek wou nie” is nog ’n hoogtepunt op die album.

“Te laat” is dalk een van die mooiste snitte op die album; hierin sing sy van ’n kans wat iemand verspeel het om in ’n verhouding betrokke te raak. Ewald Coleske het hierdie snit saam met haar geskryf. Francois van Coke sing saam met Riana op “Alles is niks”, wat hy saam met haar geskryf het. Daar is net een bekende snit op die album, naamlik Alannah Myles se treffer “Black velvet”. Riana se weergawe is net so goed soos die oorspronklike een. Die kitaarwerk op “Sê vir my” is eenvoudig skitterend. Die laaste snit, “Ewigheid”, is nog ’n moontlike treffer; dis jammer dat dit aan die einde van die CD voorkom.

Riana het weer eens bewys dat daar geen twyfel oor haar talent as sangeres en liedjieskrywer kan bestaan nie. Sy het vorendag gekom met ’n uitstekende album wat baie meer om die lyf het as dié van die gemiddelde Afrikaanse kunstenaar en hopelik sal ’n hele aantal snitte treffers word. Hierdie album kan baie sterk aanbeveel word.