Met die derde seisoen van The Voice SA is Tasché Burger as die algehele wenner aangewys.

Sy was nie net die eerste vroulike wenner van dié reeks nie, maar ook die jongste een tot dusver en sy het pas haar debuutalbum met die hulp van haar afrigter, Francois van Coke, vrygestel.

Eintlik is dit ’n EP (Extended Play) aangesien dit net ses snitte bevat. Met die eerste snit, “Tweedehandse hart”, kan ’n mens reeds agterkom dat sy ’n besondere stem het; daar is min sangeresse wat haar stemkwaliteit kan nadoen. Tasché is ’n groot aanhanger van Spoegwolf en sy sing “Bittermaan” saam met hul hoofsanger, Danie du Toit. Tasché se weergawe van “Vier seisoene kind” saam met Francois van Coke is eenvoudig skitterend en dis tans besig om ’n groot treffer te word. Die komponis van dié liedjie, Gian Groen, beskou dit as die beste weergawe wat hy tot dusver gehoor het; as hy dit sê, kan ’n mens dit glo.

“Lisa se klavier” was natuurlik een van Koos Kombuis se bekendste komposisies, en die eerste liedjie wat Tasché tydens haar oudisie van The voice gesing het. Sy sing die deel wat gewoonlik gepraat word; dit klink baie goed. Tasché se stem pas baie goed by hierdie liedjie; dis maklik om te verstaan hoekom Francois van Coke haar gekies het om saam met hom te werk. Hierdie liedjie is al deur soveel kunstenaars opgeneem dat dit al holrug gery is, maar Tasché se opname is een van die bestes wat tot dusver verskyn het. Kort nadat sy as wenner aangewys is, het sy haar eerste enkelsnit by Francois opgeneem. Die een was ’n groot treffer en het radiolugtyd op verskeie radiostasies gekry. Francois was natuurlik ook een van die stigterslede van die groep wat ’n mens net Polisiekar behoort te noem. Tasché is die tweede kunstenaar binne ’n kort rukkie wat hul treffer “Ek skyn heilig” opgeneem het nadat Corlea dit ook gedoen het. Sy het besluit om dit op te neem om vir Francois dankie te sê vir alles wat hy tot dusver vir haar gedoen het. Sy kan van voor af ’n treffer met hierdie liedjie hê.

Dis jammer dat Tasché nog net ses snitte opgeneem en uitgereik het, maar eerder dit as wat ’n mens ’n album vrystel wat uit ’n paar goeie snitte en ’n spul weggooisnitte bestaan. Dit laat ’n mens uitsien na wat sy volgende gaan doen, veral nadat sy deelgeneem het aan die Gé Korsten-huldigingskonsert teen die einde van 2019. Sy is nog jonk en uiters talentvol en daar lê ’n blink toekoms vir haar voor.