Deur Marianda Schlebusch

Die Voortrekkers is ’n plek waar jeuglede kultuur, in die natuur, deur avontuur, geniet.

Waar anders sal kinders vandag die kans kry om knope te maak, vuil te word, berge te verower, staproetes te verken, in branders te roei, deur riviere te swem, in skuilings te slaap wat hulle self gebou het, rigting met sterre te vind of sommer net laataand om ’n kampvuur te kuier?

Die Voortrekkers se stigtingskongres het op 30 September 1931 in die ou stadsaal
van Bloemfontein plaasgevind, en Die Voortrekkers het met groot geesdrif tot
stand gekom. Die Eerste Minister, genl. JBM Hertzog, het die eerste groep
amptelike Voortrekkers ingelyf, en dr. NJ vd Merwe is tot hoofleier en mev.

MM Jansen tot onderhoofleidster verkies. Mnr. J de V Heese was die eerste
hoofsekretaris en die provinsiale leiers was prof. Ben Taute (Kaapland), dr. DF
Visser (Vrystaat), mnr. JH Greijbe (Transvaal) en mev. MM Jansen (Natal).

Die storie van Die Voortrekkers is ’n verhaal van vrywilligers wat hul vrye tyd
gebruik om graadwielboeke, handleidings en ander literatuur te skryf. Geboue,
spankamers en kampterreine het deur harde werk en innoverende denke ontwikkel
tot spogprodukte.

Dit is ’n storie van sente omdraai, moue oprol, vasbyt en hard werk. Dit is ’n
storie van historiese feeste, monumente bou en erfenisse bewaar. Dit is ’n
storie van betrokkenheid, praktiese omgee en diensbaarheid in plaaslike
gemeenskappe.

Die Voortrekkerstorie vertel ’n verhaal van planne, vars denke, aanpasbaarheid en
hoëfunksieprestasies. Dit is ’n storie van liefde vir Afrikaans, Afrikanerkultuur, Afrikanerkinders, maar bo alles, vir die Here.

Ook is dit ’n storie van pret, kameraadskap en avontuur.

Dit is geen wonder dat Die Voortrekkers oor dekades heen gegroei het tot ’n
lewenskragtige, en saakmakende kultuurorganisasie nie.

Getrou aan die oorspronklike stigtingsideale van NJ van der Merwe, Vader Visser en
Japie Heese is Die Voortrekkers vandag steeds ’n toekomsgerigte jeugorganisasie
wat:

  • Afrikanerkinders se karakter deur Bybels-Christelike waardes vorm.
  • Afrikanerkinders die geleentheid bied om hul kultuur in die natuur deur avontuur te geniet.
  • Afrikaners begelei om as oortuigde Christene nie net Bybelse waardes in hul persoonlike lewens uit te leef nie, maar ook om gemeenskapswaardes deur middel van diens, deelname en standpunte te help vorm.
  • Afrikanerkinders help om lewensvaardighede te ontwikkel om as uitnemende en diensbare leiers ’n betekenisvolle en positiewe bydrae te lewer tot die land en die kontinent.
  • Afrikanerkinders ’n tuiste bied waarin hulle Afrikaners se geskiedenis, taal, kultuur en tradisies ten volle kan uitleef en geniet.

Hierdie ideale het oor dekades neerslag gevind in die wese, waardes en strategiese doelwitte van Die Voortrekkers om jong Afrikaners as uitnemende leiers te ontwikkel.

Daar is ’n Voortrekker-kommando in jou omgewing – word deel van die Kultuurnetwerk en kom ontmoet hierdie lid van die familie!

Vir meer inligting stuur ‘n e-pos aan barry@kultuurtuiste.org.za.