Teen die einde van 2019 het Universal Musiek ’n aantal konserte gereël om mense weer aan die dans te kry, met kunstenaars soos die Klipwerf-Orkes, Kosie Beukes, Die Ventertjies en Fatman wat die leiding geneem het.

Varstrap was die naam van ’n Boeremusiekprogram wat op kykNET Musiek uitgesaai is, en daarom is dit gepas dat hierdie kunstenaars, wie se musiek almal min of meer in daardie kategorie val, aan hierdie konsertreeks deelgeneem het. Benewens die konserte is ’n versamelalbum met die musiek van al hierdie kunstenaars ook onlangs uitgereik.

Die Klipwerf-Orkes was verlede jaar vyftig jaar oud en is sonder twyfel die gewildste instrumentale groep in Suid-Afrika. Hul eerste bydrae is “Lekker ou Jan”, wat deur Tant Grietjie van Garies geskryf is en ’n treffer vir onder meer Worsie Visser geword het. Die volgende snit is “Wie se kind is jy?”. Pieter van der Westhuizen, wat die ATKV se Crescendo-kompetisie gewen het en daarna ’n album of twee vrygestel het, het dit geskryf, maar dit het regtig eers gewild geword nadat Theuns Jordaan dit saam met Dr. Victor en die Rasta Rebels gesing het. Hoe minder daar van Fatman se eerste snit op die album, “Ek en my meisie”, op die wysie van Chris Andrews se treffer “Pretty Belinda”, gesê word, hoe beter. Die Ventertjies het die afgelope paar jaar bewys dat hulle ongelooflik baie talent het, en “Waslap-vastrap” is deur Nicola, die ouer sussie, gekomponeer. Kosie Beukes gee ’n mens hoop vir die toekoms van Boeremusiek. Hy is nie bang om die komposisies van legendes te speel nie; Nico van Rensburg was die komponis van sy eerste snit op die album, “Donkerhoek-vastrap”. “Outa in die langpad” is ’n legendariese komposisie, hoewel die titel vandag dalk nie politiek korrek sou wees nie. Dit is Klipwerf se volgende snit op die album. Hulle speel egter nie net plaaslike komposisies nie, soos hulle met hul weergawe van “Spanish eyes” bewys. “Dorp toe” was seker Fatman se eerste groot treffer en is op albei sy albums tot dusver ingesluit. Dit gebeur soms dat ’n liedjie wat deur ’n Afrikaanse sangeres gekomponeer is, goed klink as dit deur instrumentaliste gespeel word. Kosie Beukes, Die Ventertjies en die Kannie Warries-orkes het saamgespan en Juanita du Plessis se komposisie “Boerejol” opgeneem; die enigste verskil is dat die ritme vinniger as op haar opname is. Selfs Kosie speel nie net bekende Boeremusiek-komposisies nie, maar dan moet ’n mens ook onthou dat “The lion sleeps tonight” ook ’n Suid-Afrikaanse komposisie is. Solomon Linda het dit gekomponeer, maar dit het eers bekend geword lank nadat dit internasionaal gewild gemaak is.

Klipwerf se volgende snit is Creedence Clearwater Revival se bekende treffer “Midnight special”. Dis duidelik dat een van ons land se beste kitaarspelers tot nog toe, Ricardo Bornman, ’n groot invloed op Die Ventertjies gehad het. Op hul debuutalbum het hulle sy komposisie “Lentevrolikheid” opgeneem en self ’n treffer daarmee gehad. Daar kom egter twee van sy ander komposisies op hierdie album; die eerste daarvan is “Sondebok”, en hul opname daarvan is uitstekend. Nog ’n internasionale treffer wat Klipwerf opgeneem het en hier ingesluit is, is “My toot toot”, wat in die middel 1980’s ’n groot treffer was. “Vuurwarm” is deur Warren Elliott gekomponeer, en Fatman het opnuut ’n treffer daarmee gehad. Hierop bewys hy dat hy ewe goed in ’n hoë en lae register kan sing. Silver de Lange was so ’n Boeremusiek-legende dat Anton Goosen ’n liedjie oor sy lewe geskryf en gesing het. Kosie Beukes het sy komposisie “Fynloop-seties” opgeneem. Hansie Roodt was nog ’n legendariese Suid-Afrikaanse kitaarspeler en hy was die komponis van “Warm snare”, wat deur Die Ventertjies opgeneem is. “Lapland” is seker een van Kilpwerf se grootste treffers tot dusver. Kosie speel nie net die komposisies van legendes nie; hy het die volgende snit, met die gepaste titel “Kosie se vastrap”, gekomponeer. As Boeremusiek gaan voortbestaan, sal meer sulke snitte gekomponeer word; daar kan nie altyd net na die ou bekende komposisies teruggegryp word nie. “Hengel by die huis” van Fatman is gemik op mans wat onder protes by die huis sit terwyl hulle wil gaan visvang. Die laaste snit op die album is Die Ventertjies se tweede Ricardo Bornman-komposisie “Umfaan”, waarop hulle bewys dat hulle vir niemand in die bedryf terug hoef te staan nie.

As jy lus is vir ’n lekker opskop, sal jy hierdie CD baie geniet; al die kunstenaars bied iets wat hulle uniek maak, en hulle vul mekaar baie goed aan. Die Ventertjies en Kosie Beukes is buitendien van die mees talentvolle jong instrumentaliste in ons land en daar lê ’n blink toekoms vir hulle voor.