Deur Bianca Stevens

In 2016 het Huisgenoot in samewerking met kykNET Films hul eerste rolprent vervaardig ter viering van hulle 100ste verjaarsdag.  Dié fliek, Vir die voëls, was gegrond op die lewe van Irma Humpel en Sampie de Klerk. Vir die voëls was ook nie net in Suid-Afrika te sien nie, maar is by verskeie internasionale filmfeeste vertoon waar dit met twee internasionale toekennings, Edmonton International Film Festival: Best International Dramatic Feature (2017) en Tallgrass International Film Festival: Best Actress (2017) (IMDb:2020) bekroon is.

Omdat Vir die voëls só groot sukses was, het Huisgenoot weer begin soek vir ’n tweede ware liefdesverhaal om te verfilm. Vergeet my nie is toe uit die verhaal van Mardeleen en Hugo Derks gebore. Die fliek speel af tussen 1997 en 2000. Dit handel kortliks oor twee verliefdes, Mardeleen (Marguerite van Eeden) en Hugo (Sean-Marco Vorster), wie se paaie vinnig by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus kruis en later weer in Londen. Hulle tuimeldroërliefdesreis is nie mooi en glad nie, maar vol gate, draaie en koppies wat groot besluite, hartseer en die soektog na horisonne en liggies insluit.

Vergeet my nie vang die wese van besluitneming vas en hoe dit jou toekoms kan bepaal. Is jy so besig om aan die toekoms te dink dat jy vandag se oomblikke verloor? Dink jy met jou hart en sit jou drome opsy of dink jy met jou kop en verloor die liefde van jou lewe? Vergeet my nie is ’n fliek wat jou weer in ware liefde laat glo, maar ook laat besef dat alles nie net vanselfsprekend is nie. Jy moet werk vir jou drome en werk vir die liefde. Soms moet jy opofferings maak om gelukkig te wees.

Vergeet my nie begin op 14 Februarie in uitgesoekte rolprentteaters wys.