Hartsmense

Cliffordene Norton

VivA-Uitgewers

 

As iemand na die titel en voorblad van hierdie aanlyn bundel sou kyk en dink dat dit oor liefdesverhale gaan, is hulle heeltemal reg. Nie jou tipiese romantiese liefdesverhale nie, maar verhale wat naasteliefde illustreer.

Hartsmense is ’n bundel stories wat gaan oor die mense wat ons liefhet. Moet egter nie ’n soetsappige spul verwag nie! Sommige stories skok, ander laat jou glimlag en natuurlik is daar dié wat jou na die snesies laat reik.

Elke verhaal is ’n woordkunswerk op sy eie en selfs meer karakter word aan die stories gegee deur die uitmuntende werk van die stemkunstenaars. Dit is duidelik dat daar baie gedagte ingegaan het op die “stem” wat die storie voorlees.

Persoonlike gunstelinge in hierdie bundel is “Om saam te slaap” en “Ek het vir jou blomme gebring”. Die titel “Om saam te slaap” skep die indruk van ’n suggestiewe liefdesverhaal, maar die leser is aangenaam verras met ’n tong-in-die-kies “skoon” storie wat die voordele van ’n gesonde verhouding uitwys. “Ek het vir jou blomme gebring” is  ’n ewe hartroerende verhaal wat die hegte band tussen skoonpa en skoondogter uitbeeld.

“Elke rand werd” is ook ’n goeie verhaal om die bundel mee af te sluit. Dit dien as ’n teenpool van die ander verhale, deurdat dit wys dat as jy jou naaste te na kom, daar gevolge sal wees.

Die verhale in hierdie bundel is skerp geskryf en raak die leser se hart aan. Cliffordene Norton mag maar skryf en ons hoop om nog baie verhale van haar te sien. Hartsmense, in my mening, kan tot dusver as een van VivA-Uitgewers se bestes beskou word.

Resensent: Anneke Langner