Hoewel Chereé aan die begin van hierdie millennium groot sukses as Afrikaanse sangeres behaal het, het sy die laaste paar jaar hoofsaaklik country-musiek saam met haar man, Wynand Strydom opgeneem.

Sy het egter nou weer tot die Afrikaanse mark toegetree en haar eerste solo-CD in omtrent tien jaar vrygestel. Die titelsnit, “Wilde waters”, is ’n komposisie van Rudi Claase, wat seker al vir die meeste hedendaagse Afrikaanse kunstenaars liedjies geskryf het. Dit het reeds ’n enkelsnit geword en bewys dat Rudi een van die beste liedjieskrywers is wat ons land tot nog toe opgelewer het. “Hierdie is my huis” is ’n komposisie van Roux Cloete, en die boodskap is dat die gewone dinge in die lewe genoeg is en dat ’n mens altyd die mense wat deel is van jou alledaagse lewe moet waardeer. Chereé het “Praat” self geskryf; dit was die eerste enkelsnit vanaf die album en ’n mens kan verstaan hoekom; dit dra ’n sterk boodskap oor. “Uit die blou” is ’n baie mooi snit wat Hugo Ludik, wat deel van Adam was, saam met Vaughan en Nerine Gardiner geskryf het. “Gypsies van die Kaap” is nog ’n mooi snit; die gestroopte musikale verwerking is regtig iets besonders. Chereé is eintlik Engelssprekend, en daarom is dit nie ’n verrassing dat sy ook in Engels skryf nie. “Live and let live” is die eerste van haar drie Engelse komposisies op die album. “Little white lies” is nog een; dit is in ’n country-styl wat baie goed by haar pas. Ondanks die Engelse titel is “Halleluja love song”, ’n komposisie van Hugo Ludik, ’n Afrikaanse liedjie.

Tony Ridgway is al jare lank in die plaaslike musiekbedryf, veral as ’n lid van die country-groep Rocking horse, en hy is ’n kampvegter vir oorspronklike plaaslike musiek. Tony het “Hierdie hart van my” geskryf, en Wynand sing dit saam met haar. Hulle kan gerus meer gereeld oorspronklike Afrikaanse liedjies saam opneem. Tony ken hulle baie goed en daarom is hy die regte persoon om ’n liedjie vir hulle te skryf. “I was wrong” is ’n skitterende oorspronklike liedjie wat Chereé self geskryf het en Lizanne Dippenaar se viool maak dit iets besonders. Dit gebeur buitendien gereeld dat ’n viool in country-musiek gebruik word. Michael Lindt het “Jy is ’n vrou” geskryf; dit gaan oor ’n meisie wat grootgeword het. Die laaste oorspronklike Afrikaanse liedjie op die album is “Les in die liefde”, geskryf deur Wouter van de Venter. Wouter is ’n onderskatte sanger en liedjieskrywer en hierdie snit laat ’n mens sommer lekkerkry. Die laaste snit op die album is haar uitstekende weergawe van Little big town se “Girl crush”.

Dit was hoog tyd dat Chereé weer oorspronklike musiek moes uitreik; sy en Wynand het ’n paar country-albums die laaste tyd vrygestel maar van iets oorspronkliks was daar weinig sprake. Daarom hoop ’n mens dat ons meer gereeld splinternuwe musiek van haar as solokunstenaar en saam met Wynand sal kry. Welkom terug, Chereé!