Die Suid-Afrikaanse Staatsteater (SAST) en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), in samewerking met Dinamika Finansiële Dienste en die Gereformeerde Kerk Magalieskruin, bied met trots die 13de FAK Afri-Duetfees aan op Saterdag, 17 Oktober, om 14:00 in die Opera van die Suid-Afrikaanse Staatsteater in Pretoria.

Die fees bring gevierde kunstenaars byeen, waaronder Jannie Moolman, Loriska Schmidt, Louis Loock en die internasionaal bekende sopraan Amira Willighagen. Die fees sal ook eer betoon aan die bekende tenoor Jannie Moolman, vir sy uitsonderlike bydrae tot Afrikaanse musiek.

Die Afri-Duetfees het hom oor die jare heen as ‘n belangrike gebeurtenis op die Afrikaanse musiekkalender gevestig en bied aan kunstenaars die geleentheid om bekende liedjies op ‘n vars en unieke wyse deur middel van duetoptredes te vertolk. Die 2026-fees bring van Suid-Afrika se geliefde kunstenaars byeen vir ‘n produksie waarin stemme, persoonlikhede en musiekstyle mekaar aanvul; dit beloof ‘n uitsonderlike middag wat die krag, talent en veelsydigheid van Afrikaanse musiek op een verhoog vier.

Die gehoor kan uitsien na optredes deur die duetpare Jannie Moolman en Loriska Schmidt; Hendri Myburgh en Nadia Beukes; Douwe Bijkersma en Lanie Coetzer; asook Louis Loock (van Romanz-faam) en die internasionaal bekende sopraan Amira Willighagen. Dit sal ‘n besondere belewenis wees wanneer al hierdie stemme saamvloei, veral tydens die gewyde gedeelte van die program. Die begeleidingsorkes – bestaande uit klavier, orrel, viool, tjello, kitaar, tromme, perkussie en trompet – word deur Liesl du Plessis gelei.

Die leierskap van die SAST sien ook uit na hierdie geleentheid. “Die Suid-Afrikaanse Staatsteater is trots daarop om sy samewerkingsooreenkoms met die FAK voort te sit en ’n platform te bied waar uiteenlopende Suid-Afrikaanse kulturele en artistieke uitdrukkings gevier kan word,” het die SAST gesê.

Volgens ds. Cassie Aucamp, sameroeper van die FAK Afri-Duetfees, is die geleentheid veel meer as net ’n konsert. “Die Afri-Duetfees is ’n viering van wat gebeur wanneer kunstenaars hul talente kombineer en die mooiste instrumente wat die Here self geskep het—die stemme van ’n man en ’n vrou—in perfekte harmonie saamsmelt om ’n nuwe dimensie aan ’n lied te verleen. Vanjaar se duetpare verteenwoordig ’n uiteenlopende spektrum van Afrikaanse musiek, wat wissel van gevestigde name tot jonger stemme met groot potensiaal. Ons sien daarna uit om die gehoor te bederf met ’n middag van humor, uitsonderlike musiek, samewerking, volmaakte harmonie en onvergeetlike oomblikke.”

Die 2026-Afri-Duetfees is ook betekenisvol aangesien dit die tweede uitvoering as deel van die samewerkingsooreenkoms tussen die SAST en die FAK is. Hierdie vennootskap skep nuwe geleenthede vir Afrikaanse kunstenaars en gehore om toegang te verkry tot produksies by een van Suid-Afrika se vooraanstaande uitvoerende kunste-lokale.

Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof van kuns, musiek en kultuur, sê die Afri-Duetfees onderstreep die FAK se verbintenis tot die ontwikkeling en bevordering van Afrikaanse musiek. “Afrikaanse musiek het ’n merkwaardige vermoë om mense oor generasies heen te verbind. Die FAK Afri-Duetfees bring kunstenaars uit uiteenlopende agtergronde en met verskillende musikale ervarings bymekaar, en toon weereens die ongelooflike talent wat binne ons taal en kultuur bestaan. Deur betekenisvolle samewerking tussen kulturele organisasies, ondersteuners en kunsinstellings skep ons geleenthede vir hierdie talent om gevier en verder ontwikkel te word.”

By die geleentheid word die FAK se lewenstoekenning vir ’n besondere bydrae tot Afrikaanse musiek aan die bekende tenoor Jannie Moolman oorhandig. Verskeie van sy gewildste liedjies sal deur die duetpare vertolk word.

Kaartjies en besprekings

Kaartjies is tans beskikbaar, en belangstellendes word aangemoedig om vroegtydig te bespreek. Bespreek kaartjies via Webtickets: https://www.webtickets.co.za/v2/event.aspx?itemid=1597936243

Datum: Saterdag, 17 Oktober 2026
Tyd: 14:00
Plek: Opera, South African State Theatre, Pretoria

Aanbieders: Die Suid-Afrikaanse Staatsteater en die FAK, in samewerking met Dinamika Finansiële Dienste en die Gereformeerde Kerk Magalieskruin.