Die room van Suid-Afrika se skoolkore en a capella-sêrgroepe het op 9 en 10 Oktober tydens die Con Spirito Nasionale Finaal by die AfriForum Teater in Pretoria hul merk gemaak. Die geleentheid, wat die Cantabile-koorkompetisie en die Animato A Capella-sêrkompetisie insluit, het opnuut bewys dat Suid-Afrika oor ’n buitengewone rykdom van jong musikale talent beskik.

Die nasionale finaal vorm die hoogtepunt van die jaarlikse Con Spirito-kunswedstryde, waaraan leerders uit verskillende streke deelneem. Deelnemers ding eers in streekrondes mee voordat die toppresteerders na die nasionale finaal deurdring om teen die beste groepe in die land mee te ding.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het as trotse borg en ondersteuner van Con Spirito opgetree deur trofeë en sertifikate te voorsien, asook ondersteuning met die voorbereiding en oorhandiging van die toekennings te bied.

Die Con Spirito Animato A Capella-sêrkompetisie, wat vanjaar sy 13de bestaansjaar vier, het weer eens indrukwekkende kreatiwiteit, musikaliteit en verhoogvernuf opgelewer. Hoërskool Zwartkop van Pretoria is as nasionale kampioen aangewys, gevolg deur Oranje Sekondêre Meisieskool Oranje van Bloemfontein in die tweede plek en Hoërskool Linden van Randburg in die derde plek.

Benewens die topdrieplasings is verskeie spesiale toekennings ook oorhandig. Hoërskool Zwartkop het uitgeblink deur toekennings vir die oorspronklikste tema, beste musikaliteit en beste vertolking van die Afrikaanse FAK-voorgeskrewe lied in te palm.

Hoërskool Linden is bekroon vir die beste kostuums en choreografie, terwyl Sekondêre Meisieskool Oranje erkenning ontvang het vir die beste eie komposisie en beste keurspel. Petite van Potchefstroom Gimnasium het die toekenning vir die beste verwerking in ’n ander taal ontvang, terwyl Hoërskool Randburg met die toekenning vir die beste Afrikaanse verwerking weggestap het.

Cantabile-koorkompetisie maak suksesvolle debuut

Vanjaar se nasionale finaal het ook die suksesvolle debuut van die Con Spirito Cantabile-koorkompetisie ingesluit. Dié kompetisie is vir die eerste keer aangebied in reaksie op die behoefte aan ’n bykomende nasionale platform vir koorkuns. Reeds in sy eerste jaar het Cantabile groot belangstelling gelok, en navrae oor deelname in 2027 is reeds ontvang.

In die laerskoolkoorafdeling het die Studler Choir van Empangeni Preparatory School in KwaZulu-Natal koning gekraai. Die koor het die toekenning vir beste tradisionele werk asook dié vir beste eie keuse ingepalm, en ook die eerste plek in die afdeling verower.

Die hoërskoolkoorafdeling is op ’n uitsonderlike hoë vlak aangebied. Hoërskool Garsfontein het toekennings vir die beste voorgeskrewe werk, beste tradisionele werk en beste ligte kontemporêre werk ontvang. Hoërskool Dinamika is vir die beste eie keusewerk bekroon. In die finale rangorde het Hoërskool Garsfontein die eerste plek behaal, Hoërskool Linden het tweede geëindig en Hoërskool Dinamika het die derde plek ingeneem.

Die kamerkoorafdeling het eweneens sterk mededinging opgelewer. Harmonia Girls Choir van Alberton het die toekennings vir die beste voorgeskrewe werk, beste eie keuse en beste ligte kontemporêre werk ontvang, terwyl Saints Chamber Choir van KwaZulu-Natal met die toekenning vir beste tradisionele werk weggestap het. Harmonia Girls Choir is as die afdelingwenner aangewys, met Saints Chamber Choir in die tweede plek.

In die algehele beoordeling van die Cantabile-koorkompetisie is Harmonia Girls Choir as die algehele naaswenner aangewys, terwyl Hoërskool Garsfontein as die algehele wenner van die kompetisie bekroon is.

FAK beklemtoon die waarde van jong talent

Volgens Sallas de Jager, nasionale hoof van taal, kuns en musiek by die FAK, speel inisiatiewe soos Con Spirito ’n onmisbare rol in die ontwikkeling van jong talent.

“Wanneer jongmense die geleentheid kry om hul gawes op ’n nasionale verhoog uit te leef, ontwikkel hulle nie net as kunstenaars nie, maar ook as kultuurbewuste leiers vir die toekoms. Con Spirito skep presies daardie ruimte waar uitnemendheid en karakter hand aan hand groei.

“Die passie, dissipline en kreatiwiteit wat ons hierdie jaar op die verhoog gesien het, getuig van die ongelooflike werk wat in ons skole en gemeenskappe gedoen word. Hierdie jong sangers bewys dat die toekoms van Afrikaanse en Suid-Afrikaanse koormusiek in uitstekende hande is.”

Met die oog op 2027 sien die FAK en Con Spirito daarna uit om nóg meer geleenthede vir jong kunstenaars te skep. Meer van die kunswedstryde en nasionale prysuitdelings sal volgende jaar by die Voortrekkermonument en die FAK se vakansieoord, Udolpho naby Parys, aangebied word.

Hierdie uitbreiding skep nuwe platforms waarop jong talent kan floreer en dra verder by tot die bevordering van Afrikaanse kultuur, kuns en musiek landswyd.