Die Rapportryers se jaarlikse Nasionale Bybelvasvra-finaal is van 16 tot 18 Oktober by die FAK se Udolpho-Rivierplaas naby Parys aangebied. Veertien spanne van skole reg oor die land het byeengekom vir ’n besonderse ervaring waarin Bybelkennis, geloof, kultuur, geskiedenis, spanwerk en nuwe vriendskappe saamgevloei het.

Die Nasionale Bybelvasvra is die oudste kompetisie van sy soort en word reeds sedert 1979 aangebied. Die FAK is die beskermheer van die kompetisie. Hoewel die Bybelvasvra die hoogtepunt van ’n jaar se voorbereiding en Bybelstudie is, het die naweek veel meer as ’n akademiese uitdaging gebied. Dit was ’n geleentheid vir die groep jongmense om hul geloof te verdiep, hul kultuurerfenis te beleef en herinnerings te skep wat hulle nog lank sal koester.

Laerskool Hennopspark is in die laerskoolafdeling as die nasionale kampioen aangewys, met Laerskool Mooirivier van Potchefstroom en Laerskool Elarduspark onderskeidelik in die tweede en derde plek.

In die hoërskoolafdeling het Hoërskool Dirk Postma die eerste en tweede plek verower, met Hoërskool Zwartkop wat derde geëindig het.

Kruis van geloof en herinnering

Met hul aankoms die Vrydag het die kinders aan ’n ysbrekeraktiwiteit deelgeneem waartydens elkeen hul gunsteling-Bybelkarakter gedeel het. Die aktiwiteit het die leerders van die verskillende skole die geleentheid gebied om mekaar beter te leer ken en hul persoonlike verbintenis met die Bybel uit te druk.

’n Besondere nuwe tradisie is vanjaar gevestig toe elke kind ’n klip wit geverf, hul naam daarop aangebring en die klippe saam in die vorm van ’n kruis gepak het. Hierdie kruis simboliseer die kinders se gedeelde geloof en sal jaarliks uitgebrei word soos toekomstige deelnemers hul eie klippe byvoeg.

Die kinders het verder die getal 190 gevorm as deel van die herdenking van die Slag van Vegkop 190 jaar gelede. Dié aktiwiteit het die belangrikheid van geskiedenis, kultuurerfenis en die bewaring daarvan vir toekomstige geslagte beklemtoon.

Bybelse ete en aand onder die sterre

Vrydagaand het die kinders ’n Bybelse aandete met Johannes 6:9 as tema geniet. Hulle het as verskillende Bybelkarakters aangetrek, wat aan die aand ’n feestelike en leersame karakter verleen het. Ná die ete is die kinders die veld in vir ’n tyd van stilte, dankbaarheid en nadenke oor alles wat hulle gedurende die afgelope jaar geleer het.

Vanjaar se voorgeskrewe gedeeltes het Handelinge 1–4, 1 Timoteus 1–6 en Joël 1–3 ingesluit. Psalm 8 is ook saam behandel, waarna hulle Christelike liedere onder die sterrehemel gesing het.

’n Besondere oomblik het gevolg toe ’n verskietende ster tydens die sing van die “Onse Vader” deur die naghemel geswiep het. Dié gebeurtenis het die kinders opnuut herinner aan die grootsheid van God se skepping en die belangrikheid van geloof en dankbaarheid.

Udolpho-Rivierplaas word speelterrein vir kultuur en spanwerk

Ná afloop van die finale ronde die Saterdag het die kinders die geleentheid gekry om Udolpho as kultuurplaas te beleef deur aan verskeie kultuur- en ontspanningsaktiwiteite deel te neem.

Vanjaar is die FAK-Geesbeker vir die eerste keer toegeken. Dié trofee dien as erkenning vir geesdrif, samewerking en deelname en het groot entoesiasme onder die deelnemers ontlok.

Die kinders is in drie gemengde groepe verdeel sodat deelnemers van verskillende skole kon saamwerk en nuwe vriendskappe vorm. Een van die eerste uitdagings was die bou van vlotte uit natuurlike materiale. Die spanne het hul kreatiwiteit uitgeleef deur hul vlotte volgens Bybelse temas en verhale te benoem.

Benewens die vlotbou het die kinders aan aktiwiteite soos toutrek, sakresies, kettieskiet, minigholf en vlugbal deelgeneem. Die Toerbroers se natuurstudente het ook gehelp met die aanbieding van die aktiwiteite en bygedra tot ’n onvergeetlike ervaring.

Die hoogtepunt van die middag was die vlotresies. Gelag, aanmoediging en uitbundige gees het oor die terrein weerklink terwyl die spanne hul selfgeboude vlotte op die water getoets het. Die aktiwiteite het nie net pret verskaf nie, maar ook die waarde van spanwerk, samewerking en kameraadskap beklemtoon.

Aand van talent, gees en erkenning

Saterdagaand het die deelnemers en organiseerders om ’n braaivleisvuur saamgekuier. Die kinders het die geleentheid gekry om hul talente deur stomstreke, sang en dansoptredes ten toon te stel.

Verskeie toekennings is oorhandig, insluitend die Udolpho-uitblinkertoekenning, Patriot-kaarte vir kinders met besondere talente en die eerste FAK-Geesbeker.

Daarbenewens het die deelnemers flitsliggies ontvang wat Matteus 5:13–15 simboliseer. Hierdie Skrifgedeelte herinner gelowiges daaraan dat hulle die sout van die aarde en die lig van die wêreld behoort te wees.

Meer as net ’n kompetisie

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het die Rapportryers se Nasionale Bybelvasvra-finaal opnuut getoon dat geloof en kultuur nie net deur boeke en formele onderrig oorgedra word nie, maar ook deur ervarings, gedeelde oomblikke en betekenisvolle verhoudings.

“Die kompetisie bly ’n belangrike platform waar jongmense aangemoedig word om die Woord van God te bestudeer, hul erfenis te waardeer en hul lig helder in die wêreld te laat skyn. Maar uiteindelik lê die grootste waarde van die naweek nie net in die kennis wat opgedoen of die pryse wat gewen is nie, maar in die geloof wat versterk, die kultuur wat beleef en die vriendskappe wat gevorm is,” sê Langner.