Dit word beskryf as die mees omvattende en gesaghebbende werk tot nog toe wat die verhaal van die Gelofte van 1838 en die betekenis daarvan deur bykans twee eeue van Suid-Afrika se geskiedenis naspoor. Hier staan ons steeds is ’n baanbrekerwerk uit die pen van dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, en ’n toeganklike, moet-lees-reis vir enigeen wat die geskiedkundige, geloofs- en kultuurbetekenis van die Gelofte, asook die hedendaagse relevansie daarvan, beter wil verstaan.

Hier staan ons steeds, ’n luukse hardeband van 373 bladsye uitgegee deur die FAK, is moontlik gemaak deur die LW Hiemstra Trust. Dié grootse werk neem die leser op ’n toeganklike reis vanaf die aanloop tot die Groot Trek, deur die gebeurtenisse van 1838 en die Slag van Bloedrivier, tot by die ontstaan van Geloftedag en die voortgaande invloed daarvan op die Afrikaner se geskiedenis, kultuur- en geloofslewe tot in die een-en-twintigste eeu.

Volgens Langner is die boek nie bloot die geskiedenis van ’n enkele gebeurtenis of gedenkdag nie, maar die verhaal van hoe opeenvolgende geslagte die Gelofte onthou, interpreteer, vier en soms bevraagteken.

“Die Gelofte van 1838 is veel meer as ’n enkele gebeurtenis,” sê hy. “Dit is ’n goue draad wat deur bykans twee eeue van Afrikanergeskiedenis loop en telkens nuwe betekenis kry namate geslagte dit onthou, ontdek en vertolk.

“Met Hier staan ons steeds wil ek lesers help om die Gelofte binne sy volle historiese, geloofs- en kultuurkonteks te verstaan, sonder om die verlede te romantiseer of dit bloot vanuit die hede af te wys. Ons moet ons geskiedenis met eerlikheid en insig benader, want ’n verantwoordelike begrip van waar ons vandaan kom, help ons om met groter wysheid oor ons toekoms te besin.

“Die boek is ook ’n uitnodiging aan ’n nuwe geslag om self die verhaal te ontdek en te vra wat dit vandag nog beteken, veral met die oog op die 200-jarige herdenking van die Gelofte in 2038.”

Vraagstukke onder loep geneem

Die boek behandel talle vraagstukke wat oor dekades heen deel van die openbare debat geword het, insluitend:

· Watter weergawe van die Gelofte die oorspronklike of mees gesaghebbende is;

· ’n Gelofte vanuit ’n Bybelse perspektief;

· Of die Slag van Bloedrivier werklik as ’n wonderwerk beskou kan word;

· Die verhouding tussen Geloftedag en Versoeningsdag;

· Die betekenis van die Gelofte vir jonger geslagte;

· Die ontwikkeling van Geloftedagherdenkings oor byna twee eeue;

· Die invloed van die Gelofte op kultuur, kuns, musiek, literatuur en openbare herinnering;

· Die huidige viering van Geloftedag op al sewe vastelande; en

· ’n Toekomsblik met die oog op die 200ste herdenking van die Gelofte in 2038.

’n Besonder waardevolle afdeling van die boek is die omvattende tydlyn van historiese gebeure wat op 16 Desember plaasgevind het. Dit toon hoe talle kerngebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis direk met Bloedrivier verband hou of doelbewus daarteenoor geposisioneer is. Die tydlyn strek van vroeë Gelofteherdenkings in die negentiende eeu en die eerste viering van Geloftedag as amptelike vakansiedag in die Zuid-Afrikaansche Republiek in 1865, Paul Kruger se begrafnis, tot die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in 1938, die inwyding daarvan in 1949, en die stigting van uMkhonto weSizwe in 1961.

Dit sluit ook latere mylpale in, soos die eerste viering van 16 Desember as Versoeningsdag in 1995, die opening van die Ncome-museum in 1998 en die wêreldwye uitbreiding van Gelofteherdenkings tot al sewe vastelande in 2025. Deur hierdie gebeure in konteks te plaas, bied die boek ’n besondere perspektief op die uiteenlopende betekenisse wat 16 Desember oor tyd vir verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika gekry het.

Boeiende reis in beeld

Die boek maak ruim gebruik van foto’s, kunswerke, historiese dokumente en argiefmateriaal wat die verhaal visueel ondersteun en die geskiedenis vir ’n breë lesersmark oopbreek.

Prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, beskryf die werk as ’n besonderse bydrae tot die Afrikaner se geskiedskrywing. “Deur die verhaal van Geloftedag ontvou ook die teologiese, kulturele, politieke en maatskaplike geskiedenis van die Afrikaner. Dit help ’n nuwe geslag om sy verlede verantwoordelik te leer ken en verstaan, en vind ’n seldsame ewewig tussen die romantisering én die afwysing van die Afrikanergeskiedenis.”

Volgens Goosen is die boek besonder waardevol omdat dit ’n verantwoordelike balans handhaaf tussen historiese feite, geloofsvrae en kulturele betekenis.

Die bekende historikus dr. Jackie Grobler meen die werk vul ’n belangrike leemte in geskiedskrywing. “Die Gelofte van 1838 staan al bykans twee eeue in die sentrum van geloof, geskiedenis, kultuur en politieke debat in Suid-Afrika. Vanaf die gebeure voor Bloedrivier en die aflegging en nakoming van die Gelofte volg die boek hoe opeenvolgende geslagte dit herdenk, vertolk en betwis het. Daar bestaan geen ander boek in Afrikaans wat die Gelofte van 1838 só omvattend volg, ontleed en in sy historiese konteks plaas nie.”

Geloof, kultuur en herinnering

Een van die belangrikste temas van die boek is dat die Gelofte nie bloot as ’n historiese gebeurtenis verstaan kan word nie, maar as deel van ’n veel groter verhaal van gemeenskapsvorming, geloof, herinnering en verantwoordelikheid.

Die werk ondersoek die wêreld van die Voortrekkers, hul Bybelse denke, hul begrip van geloftes, hul strewe na selfbestuur en die uitdagende omstandighede waaruit die Gelofte ontstaan het. Die leser word ook bekendgestel aan die bou van die Geloftekerk, die ontstaan van Geloftedagvierings, die ontwikkeling van herdenkingsplekke soos Bloedrivier en die Voortrekkermonument, asook die uiteenlopende maniere waarop Afrikaners deur die jare op die Gelofte gereageer het.

“Die boek se titel, Hier staan ons steeds, verwys na die voortgesette teenwoordigheid van die Gelofte in die Afrikaner se kollektiewe geheue. Dit dui nie net op die geskiedenis wat agter ons lê nie, maar ook op die verantwoordelikheid van elke geslag om die verlede met insig te verstaan en die toekoms met wysheid tegemoet te gaan,” sê Langner.

Bewaring van Bloedrivier

Die publikasie het ook ’n besonderse erfenisbewaringsdoel. Die opbrengs en steun wat deur die projek gegenereer word, word aangewend ter ondersteuning van die Bloedrivier-erfenisterrein. Die terrein verkeer reeds geruime tyd onder erge finansiële druk nadat staatsfinansiering gestaak is en brande onlangs hier gewoed het.

As deel van hierdie bewaringsinisiatief ontvang elke persoon wat ’n Vriend van Bloedrivier word, ’n gratis eksemplaar van Hier staan ons steeds. Op dié manier word die boek nie net ’n bron van kennis nie, maar ook ’n tasbare bydrae tot die bewaring van een van Suid-Afrika se belangrikste erfenisterreine. Die boek is ook teen R350 te koop (aflewering uitgesluit).

Met die naderende 200-jarige herdenking van die Gelofte in 2038 bied Hier staan ons steeds ’n waardevolle vertrekpunt vir gesprekke oor die verlede, die hede en die toekoms van een van die invloedrykste temas in die Afrikaner se geskiedenis. · Besoek https://bloedrivier.org.za/hier-staan-ons-steeds-ontvang-jou-eksemplare/ om die boek te koop of ’n vriend van Bloedrivier te word en die boek gratis te ontvang.