Wat vier jaar gelede as ’n inisiatief deur SingFonix en die FAK begin het, het die afgelope naweek opnuut bewys dat dit ’n gevestigde hoogtepunt op Gauteng se koorkalender geword het. Die vierde Monumentale Koorfees is van 21 tot 23 Augustus by die Voortrekkermonument aangebied, waar 21 kore van reg oor Gauteng die geleentheid gekry het om in die ikoniese Heldesaal op te tree.
Dié fees, wat in sy eerste jaar slegs een dag geduur het, het tot ’n driedagfees gegroei met vier sessies waartydens ’n uiteenlopende groep junior-, senior-, skool-, jeug-, gemeenskaps-, universiteits- en kamerkoorensembles hul talent op een van Pretoria se mees besondere verhoë ten toon gestel het.
Die unieke karakter van die Monumentale Koorfees lê daarin dat dit nie ’n kompetisie is met beoordelaars, punte of pryse nie. Die fokus is uitsluitlik op die vreugde van sang, die geleentheid om voor ’n gehoor op te tree en die viering van koormusiek in sy verskillende vorme.
Volgens Sallas de Jager, nasionale hoof: taal, kuns en musiek van die FAK, skep dié fees ’n waardevolle ruimte waar musikante hul liefde vir koorsang kan uitleef.
“Musiek het nie ’n wenner en ’n verloorder nodig om besonders te wees nie. Vanjaar se 21 deelnemende kore het elkeen met hul eie stem, styl en identiteit iets besonders na die Heldesaal gebring. Dit was ’n viering van die suiwer vreugde van musiek en die hoendervleisbelewenis wanneer verskillende stemme in harmonie iets groter as die individu skep.
“Die Heldesaal se indrukwekkende argitektuur, besonderse atmosfeer en uitstekende akoestiek het verseker dat elke uitvoering ’n unieke ervaring was. Vir die deelnemers was dit meer as bloot nog ’n konsert. Dit was ’n geleentheid om in ’n wêreldklas- historiese en monumentale ruimte deel te word van ’n groter musikale ervaring,” sê De Jager.
Die fees het op Vrydagaand 21 Augustus afgeskop met optredes deur die SingFonix-mansensemble, die koor van Hoërskool Rustenburg, die University of Pretoria Onderstepoort Community Choir, Laerskool Monumentpark Juniorkoor, die Akademia-koor en die Rheinberger Kamerkoor.
Twee verdere sessies is op Saterdag 22 Augustus aangebied. Die middagprogram het optredes deur die Laerskool Voorpos Juniorkoor, Laerskool Lynwood Seniorkoor, Magaliesberg Kinderkoor, Laerskool Voorpos Seniorkoor en Cantare Kinderkoor ingesluit, terwyl die aandprogram weer ’n uiteenlopende groep sangers na die verhoog gebring het. Onder die kore wat opgetree het, was die
Laerskool Stephanus Roos Seniorkoor, Conwonnité Koor, Laerskool Tygerpoort Seniorkoor, die koor van Hoërskool Waterkloof en die Serenade Kamerkoor.
Die fees is op Sondag 23 Augustus afgesluit met optredes deur die Laerskool Monumentpark Seniorkoor, die Oos-Randse Jeugkoor, die Noriekoor van Hoërskool Noordheuwel en die Deo Gloria-koor.
Een van die hoogtepunte van die fees was die optrede deur die gewilde groep Klopjag, wat tydens elk van die vier sessies opgetree het. Die samewerking tussen Klopjag en die deelnemende kore het tot die fees se unieke karakter bygedra, met gesamentlike musikale oomblikke wat die idee van samewerking en die krag van kollektiewe sang beklemtoon het.
De Jager sê die groei van die Monumentale Koorfees van ’n eendaggeleentheid tot ’n driedagfees is ’n duidelike bewys van die belangstelling in en behoefte aan sulke geleenthede vir koormusiek.
“Koormusiek leef nie net in Gauteng nie, maar groei en floreer. Die FAK is trots om saam met SingFonix ’n platform te skep waar sangers hul talent kan deel, sonder die druk van kompetisie, maar met die vreugde van musiek as die gemeenskaplike dryfkrag.
“Die Monumentale Koorfees is veel meer as ’n reeks afsonderlike konserte. Dit is ’n viering van musikale verskeidenheid, talent en gemeenskap. Van jong kinders wat moontlik hul eerste groot verhoogervaring beleef tot ervare kamerkoorsangers, het elke groep die geleentheid gekry om deel van dieselfde musikale verhaal te wees,” sê de Jager.










