Mediaverklaring

6 Februarie 2023

70 herdenk moord op Retief, 185 jaar ná sy dood

Op Sondag, 5 Februarie het 70 Kapenaars van vroegoggend af stapgereed byeengekom op Welvanpas-wynlandgoed, die historiese geboorteplaas van Piet Retief. Lede van die FAK-kultuurnetwerke in die Kaap en hul vriende het byeengekom om op die spore van Retief te stap ter herdenking van sy moord 185 jaar gelede.

Op 6 Februarie, 185 jaar gelede in 1838, is Piet Retief saam met sy manskappe vermoor by Umgungundlovu, waar Retief en sy manskappe met Koning Dingaan ’n koopkontrak vir grond onderteken het.

Piet Retief, ’n leier van die Groot Trek, was ook die skrywer van die manifes waarin die redes vir die Groot Trek uiteengesit is. Hierdie dokument is op 2 Februarie 1837 in die Graham’s Town Journal gepubliseer.

Pieter Mauritz Retief is in 1780 op Welvanpas, naby Wellington, gebore. Hierdie historiese wynlandgoed is al 318 jaar oud en reeds vir 10 geslagte die eiendom van die Retief-familie. Piet Retief het hier gewoon en gewerk tot hy 27 jaar oud was.

Op hierdie familieplaas waar Piet Retief se spore lê, het die stappers ook spore getrap terwyl hulle op die staproete interessante feite oor Piet Retief en sy geboorteplaas op bome raakgelees het.

Terug uit die veld, op die grasperk voor die ou plaasopstal, het Dan Retief, wat tans op die plaas boer, interessante feite gedeel oor Piet Retief en Welvanpas. Die oorspronklike naam van die plaas was De Krakeelhoek. Dit kom van die Hollandse woord “Krakelen” wat “bekgeveg” beteken. Die naam Welvanpas het gekom omdat die familie besluit het die naam “Krakeelhoek” is negatief. Welvanpas het ‘n positiewe konnetasie.

Juanine Kok, kultuurorganiseerder van die FAK in die Wes-Kaap, sê die belangstelling in hierdie stap was oorweldigend. Dis wonderlik dat ‘n groot getal kinders ook saamgestap het.

“Vir ons by die FAK is dit belangrik dat ons kultuurstorie oorgedra word aan ons jeug, dat hulle daardeur ‘n liefde en passie ontwikkel vir die bewaring en behoud van ons erfenis en trots sal wees daarop. Dit was spesiaal om in die 185-herdenkingsjaar van die Groot Trek, op dieselfde plaas te stap waar Piet Retief se spore lê,” het Kok vertel.

Sy brei verder uit en sê: “Dis ‘n baie mooi roete en sluit verskillende tipes terreine in. Welvanpas, met sy eie Retief-kultuurstorie wat strek tot in die 11de geslag vandag, is voorwaar ‘n juweeltjie wat besoek moet word.”