Taalweek is ’n jaarlikse hoogtepunt wat deur die Orania Kunsteraad (OKeR) aangebied word. Vanjaar se taalweek was besonder spesiaal, want nie net vier ons die eeufees van Afrikaans as amptelike landstaal nie, maar in Augustus is die 150ste bestaansjaar van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) ook gevier. Die program het iets vir elke ouderdom en belangstelling gebied. Die week het afgeskop met samesang deur die gemeenskap, asook die verskeie koshuise van Bo-Karoo Opleiding. Hierdie geleentheid het deel van dié koshuise se sêr-aand gevorm. Goeie gees in Afrikaans het geheers en die jongmense se energie was die perfekte wyse om die week af te skop.

Die liedjie-aand is opgevolg deur ’n speletjiesaand waar deelnemers se kennis van die taal getoets is. Die aand is in die vorm van ’n vasvra met verskeie speletjies aangebied, met ’n spesifieke fokus op bouterme in Afrikaans omdat “Bou in Afrikaans” vanjaar se tema vir die taalweek is. Dit is geïnspireer deur “Bielie die Bouer” – ’n karakter wat vroeër vanjaar in Orania bekend geword het as die persoon wat help om die regte Afrikaanse terme in die konstruksieveld te gee, want Bielie bou in Afrikaans aan Orania. ’n Musiekblyspel, Die lewe is ’n lied, opgevoer deur die gemeenskap, was beslis ’n hoogtepunt. Hier kon die gemeenskap met ’n verskeidenheid talente spog. Instrumente, sang en toneelspel het die gehoor behoorlik vermaak. Die roete deur die lewe van ’n egpaar en ook die verloop van tyd – van kind tot oupa en ouma – is in een uur vasgevang op die maat van Afrikaanse treffers wat die aand ingekleur het.

Verder op die taalweekprogram was ’n poppekas vir die kleinspan, ’n kuns- en skryfuitstalling, ’n boekbekendstelling deur prof. Das Steyn vir die digter van Doornkraal – Kas van den Bergh, en ’n gesprek deur dr. Wikus Buys, getiteld Taal en tuiste. Daar is ook ’n kortfilmfees aangebied waaraan die gemeenskap kon deelneem. Verskeie kortfilms met ’n kort en bondige storielyn is ingeskryf.

“Baie dankie aan OKeR vir ’n pragtige program. Dit is lekker om Afrikaans saam met ’n kultuurgemeenskap te vier wat ’n liefde en passie vir ons taal het. Taalweek het bevestig waarom ons so lief vir ons moedertaal is, en haar sprekers opnuut aangemoedig om die Afrikaans-fakkel die toekoms in te dra,” sê Cara Tomlinson, FAK-kultuurkoördineerder in die Noord-Kaap.
