Die Afri-Duetfees het op 24 en 25 Oktober sy twaalfde bestaansjaar gevier en oudergewoonte ’n musiek- en toneelskouspel opgelewer wat verbind, herinner en inspireer.

Vanjaar se fees, met die tema “Paul Kruger 200”, was ’n waardige viering van en erkenning aan die viermalige president van die destydse ZAR en sy nalatenskap. Die 200ste herdenking van Kruger se geboorte is vanjaar landwyd gevier.

Die Afri-Duetfees word beskryf as ’n uitsoekprogram van ons beste duetpare in die land. Die kunstenaars wat vanjaar opgetree het, was Jannie Moolman en Natasha Joubert, Louis Loock en Loriska (Bubb) Scmidt, Hendri Myburgh en Nadia Beukes, asook Wynand en Chereé Strydom.

Tydens die tweede helfte is die gehoor met ’n toneelopvoering oor Paul Kruger se lewe getrakteer – ’n verkorte verhoogstuk uit Die Groot Gryse, Klein voor God met Rouel Beukes wat die rol van Kruger vertolk het. Hy was die ontvanger van verlede jaar se FAK-toekenning by die Afri-Duetfees vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse kuns.

Vorige ontvangers van dié gesogte toekenning sluit in Annelie van Rooyen, Carike Keuzenkamp, Manuel Escórcio, Lance James en Min Shaw, Johan Stemmet, Koos du Plessis (postuum), die Alabama-studentegeselskap en die Pro Patria Museum.

Elke jaar word ’n prestigetoekenning deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) aan ’n persoon of entiteit toegeken vir ’n lewensbydrae aan die Afrikaanse musiekskat. Hierdie jaar het Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, die toekenning aan die Krugergenootskap oorhandig vir hul jarelange bydrae om hierdie staatsman se nalatenskap te laat voortleef.

“Hierdie erkenning is nie net ’n terugblik nie, maar ’n viering van ons kultuurhistoriese bande met die musieklandskap. Ons is dankbaar dat die Paul Kruger-erfenis ook ’n plek vind binne ’n fees wat so sterk gewortel is in Afrikaanse sang,” sê Van Huyssteen .

“Met die tema, Paul Kruger 200, wil ons ons musiekbehoefte verbind met ons geskiedenis – dat ons saam kan herinner, besin én vier. Die duetvorm is perfek daarvoor: twee stemme wat mekaar verryk, soos geskiedenis en kultuur mekaar versterk,” sê hy.

Soos die vorige jare was die program ’n kombinasie van populêre en klassieke volksliedere. Die twee aanbieders, ds. Cassie Aucamp en Helena Ceronio, het die gehoor met hulle kwinkslae laat skaterlag.

“Elke duetpaar het sy eie unieke persoonlikheid na die verhoog gebring,” sê Dawid Brand, bedryfshoof van media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste. “Daar was iets vir die liefhebber van klassieke sang, die talentwaardeerder van gevierde stemme en diegene wat sy musiek in ’n gevoelvolle omgewing wou beleef.”

In ’n tyd waarin digitale musiekstroming hoogty vier, bly die ervaring van ’n lewende uitvoering besonders belangrik. “Die Afri-Duetfees gee ’n platform aan topgehalte- Afrikaanse duetmusiek – ’n genre wat nie altyd op die hoofstroomverhoë sy regmatige erkenning kry nie,” sê Brand.