Die Afrikaanse Kunsvereniging (AKV) het op 13 en 14 Oktober jong kunstenaars by hul jaarlikse toekenningsgeleentheid in die Senotaafsaal by die Voortrekkermonument vereer. Hierdie geleentheid was nie net ’n viering van talent nie, maar ook ’n getuienis van die AKV se ryk geskiedenis en volgehoue bydrae tot die Afrikaanse kuns en kultuur.
Die AKV, wat vanjaar sy 93ste bestaansjaar vier, het ’n besonderse erfenis. Dié organisasie is gestig met die doel om jong Suid-Afrikaners die geleentheid te bied om hul kuns- en kultuurtalente te ontwikkel en uit te leef.
Die AKV se eerste grondwet is op 19 November 1931 onder leiding van dr. M.J. Coetzee, destyds ’n dosent aan die Normaalkollege, opgestel. Reeds tydens daardie vergadering is beplan om die eerste kunswedstryde in 1932 te begin, en in Junie 1932 het die heel eerste Afrikaanse kunskompetisie plaasgevind – ’n mylpaal in die bevordering van Afrikaanse kultuur en kreatiwiteit.
Met verloop van jare het die AKV die kuns van duisende jong deelnemers bevorder, en die kompetisie het vinnig gegroei in omvang en aansien. In 1945 het die destydse Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) betrokke geraak en opnames van finaliste oor die radio uitgesaai — iets wat die AKV destyds tot in die huise van mense reg oor Suid-Afrika gebring het.
Slegs twee keer in die AKV se geskiedenis is die jaarlikse kompetisies gekanselleer: in 1948 tydens die kinderverlammingsepidemie (polio) en weer in 2020 tydens die wêreldwye Covid-19-pandemie. Tog het die vereniging aangehou groei – ’n bewys van die vasberadenheid waarmee Afrikaanse kunsorganisasies soos dié hul roeping uitleef.
Charmaine Potgieter, voorsitter van die AKV, is trots daarop dat die AKV se werk ’n voorbeeld is van hoe kuns ’n brug tussen geslagte vorm. “Wat in 1932 begin het as ’n klein kunswedstryd vir Afrikaanse leerders, het gegroei tot ’n landwye beweging waar duisende kinders jaarliks hul kreatiwiteit kan uitleef.”
FAK aan boord
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), wat vanjaar 96 jaar oud is, het in die 1930’s hande gevat met die AKV om hierdie kunskompetisies aan te bied, waarna die twee kultuurorganisasies se paaie geskei het. Nege dekades later het egter hulle weer hande gevat om saam kunstige skooltalente te bevorder.
Prescilla Thornhill, die organiseerder van die huidige instrumentale afdeling, het in 2023 die FAK genader met die voorstel dat die AKV se kompetisies na die Voortrekkermonument se terrein verskuif word. Sy was beïndruk met die terrein se geskiedkundige betekenis en wou hê die kinders moes weer in aanraking kom met die breër Afrikaanse kultuurlandskap.
In 2024 is die instrumentale kunswedstryde, spesifiek die klavierafdeling, vir die eerste keer in die Kapel aangebied en die intieme ruimte vir dié afdeling is baie goed ontvang. Die skilderkuns-uitstalling is in die Voortrekkersaal gehou.
Die prysuitdelings is in die indrukwekkende Senotaafsaal aangebied en die FAK het die sertifikate geborg.
“Ons wil nie net help om kuns te kan beoordeel nie; ons wil ook die kinders en jong kunstenaars weer in aanraking bring met ons kultuurerfenis,” sê Sallas de Jager, die FAK se hoof van kuns-, taal- en musiekprojekte. “Die Voortrekkermonument en sy terrein bied presies daardie atmosfeer – dit verbind kuns met geskiedenis, en kreatiwiteit met identiteit.
“Ons wil soveel as moontlik van die kompetisies na die Kultuurtuiste toe skuif sodat die kinders weer die terrein kan beleef. Dit gaan oor meer as net prestasie – dit gaan oor blootstelling aan die kultuur, atmosfeer en trots wat hierdie plek beliggaam.”
Vanjaar het die instrumentale, vokale en ensemble-afdelings ook op die terrein plaasgevind, met honderde jong kunstenaars wat hul talent in hierdie historiese omgewing kon vertoon. Die prysuitdelings het oor twee dae gestrek en was die hoogtepunt van weke se kompetisies tussen 25 Julie en einde Augustus en is ook weer in die Senotaafsaal aangebied.
Op Maandag, 13 Oktober is die instrumentale gala-prysuitdeling gehou. Tydens dié geleentheid is koper- en houtblaasinstrumente, viole, klaviere, orkeste en oorspronklike komposisies vir uitnemendheid beloon.
Op Dinsdag, 14 Oktober het die fokus verskuif na vokaal-, redenaars- en skryfkunsafdelings. Gedurende hierdie gala-aand is meer as 120 toekennings en sertifikate oorhandig. Hierdie prysuitdeling het die sluiting van die 2025-seisoen gemerk en die sukses van die jong kunstenaars gevier wat hul drome deur kuns uitleef.
Die omvang van die deelname is indrukwekkend, met 2 100 inskrywings en 980 unieke deelnemers in die instrumentale afdeling. In totaal was daar meer as 4 000 inskrywings oor al die kunsvorme heen – van beeldende kuns tot toneel, voordrag, kreatiewe skryfwerk, solosang en kore.
Die Paul Kruger-trofee
Een van die mees gesogte toekennings van die AKV is die Paul Kruger-trofee, wat jaarliks aan die skool met die meeste inskrywings oorhandig word. Hierdie trofee simboliseer nie net deelname nie, maar ook die gees van samewerking en betrokkenheid by kunsopleiding in skole. Vanjaar is die trofee aan Hoërskool Waterkloof oorhandig.
Potgieter sê die samewerking tussen die AKV en die FAK bring nuwe energie en geleenthede. “Die AKV bly trots daarop dat die kompetisies deelnemers van kleuterskole, laerskole, hoërskole, private kunsskole en ateljees verwelkom. Hierdie oop benadering gee jong kunstenaars op elke vlak ’n platform om hul vaardighede te slyp en selfvertroue op te bou.”
Sy doen ook baie moeite om die AKV se beeld deurgaans te vernuwe en wil volgende jaar ’n danskategorie inbring. “Ons is bevoorreg om die vrugte van nege dekades se volgehoue kultuurwerk te pluk. Die AKV leef omdat daar steeds ouers, onderwysers en instellings is wat glo in die waarde van kuns as deel van opvoeding en identiteit. Hierdie kinders is die draers van môre se kulturele erfenis.”
“Wanneer ’n kind op ’n verhoog of voor ’n doek sy hart uitleef, gebeur iets besonders,” sê De Jager. “Dít is kultuurbou in sy suiwerste vorm – en dít is hoekom ons hier is.”






