Die Opera-teater in die Suid-Afrikaanse Staatsteater het Saterdagmiddag weerklink van harmonieuse duetklanke, humor en ’n ontroerende huldeblyk tydens die 13de FAK-Afri-Duetfees. Die geleentheid, aangebied deur die Suid-Afrikaanse Staatsteater (SAST), die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Dinamika Finansiële Dienste en die Gereformeerde Kerk Magalieskruin, het opnuut bevestig waarom dié fees as een van die hoogtepunte op die Afrikaanse musiekkalender beskou word.
Soos in vorige jare het die program ’n ryk verskeidenheid musiekgenres aangebied, insluitend gewilde treffers, klassieke volksliedere, kontemporêre Afrikaanse musiek en indrukwekkende operawerke. Van die eerste noot af is die gehoor meegevoer deur die talent van Suid-Afrika se voorste kunstenaars, terwyl die aanbieders, ds. Cassie Aucamp en Helena Ceronio, met hul humor, sang en selfs enkele danspassies vir ligter oomblikke tussen die optredes gesorg het.
Die fees het kunstenaars soos Jannie Moolman, Loriska Schmidt, Louis Loock, Amira Willighagen, Hendri Myburgh, Nadia Beukes, Douwe Bijkersma en Lanie Coetzer op een verhoog byeengebring. Die uiteenlopende duetpare het hul unieke musikale style saamgesnoer om bekende liedere op vars en kreatiewe wyses aan te bied.
Die program het geopen met die geliefde geestelike lied “Loof die Here uit die hemel”, waarna die gehoor getrakteer is op treffers soos “All I ask of you”, “The sound of music”, “My hele hart”, “Tiritomba”, “Oukraalliedjie”, “Nessun dorma”, “Barcelona” en “Klein Karoo”. Die begeleidingsorkes onder leiding van Liesl du Plessis het ’n belangrike bydrae tot die sukses van die middag gelewer. Met klavier, orrel, viool, tjello, kitaar, dromme en trompet het die ensemble die kunstenaars meesterlik ondersteun.
Een van die hoogtepunte van die dag was die spesiale huldeblyk aan die bekende tenoor Jannie Moolman. Verskeie van sy gewildste liedere en gunstelingwerke is deur die duetpare vertolk as erkenning vir sy jarelange en betekenisvolle bydrae tot Afrikaanse musiek.
Tydens die geleentheid het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, die FAK se lewenstoekenning vir ’n besondere bydrae tot Afrikaanse musiek aan Moolman oorhandig.
“Jannie Moolman se loopbaan getuig van uitnemendheid, professionaliteit en ’n onwrikbare liefde vir Afrikaanse musiek. Deur sy stem, sy verhoogwerk en sy toewyding het hy oor dekades gehore geïnspireer en gehelp om Afrikaanse musiek op die hoogste vlak uit te dra. Dit is vir die FAK ’n voorreg om sy lewenslange bydrae met hierdie toekenning te erken en te vier,” het Langner gesê.
Moolman sluit aan by vorige ontvangers van hierdie gesogte eerbewys, insluitend Annelie van Rooyen, Carike Keuzenkamp, Manuel Escórcio, Lance James, Min Shaw, Johan Stemmet, Koos du Plessis (postuum), die Alabama-studentegeselskap, die Pro Patria Museum en Rouel Beukes.
Vir die internasionaal bekroonde Nederlandse sopraan Amira Willighagen was die geleentheid besonder spesiaal aangesien dit haar eerste optrede in die Suid-Afrikaanse Staatsteater was. Haar optrede saam met Louis Loock het groot byval by die gehoor gevind.
Die gewyde gedeelte van die program het die fees op ’n indrukwekkende noot afgesluit. Werke soos “Ek sal nie bang wees nie”, “I’ll walk with God”, “You’ll never walk alone”, “Jerusalem”, “O Heer my God”, “Nearer my God to thee”, “Lichtstad” en “Onse Vader” het die gehoor diep geraak. Met die gehoor wat aan die slotuitvoering van “Onse Vader” deelgeneem het, is die fees afgesluit met ’n kragtige belewenis van gemeenskap, geloof en dankbaarheid.
Volgens ds. Cassie Aucamp, sameroeper van die FAK-Afri-Duetfees, gaan die geleentheid oor veel meer as bloot uitstekende musiek.
“Die Afri-Duetfees is ’n viering van wat gebeur wanneer kunstenaars hul talente kombineer en die mooiste instrumente wat die Here self geskep het, naamlik die stemme van ’n man en ’n vrou, in perfekte harmonie saamsmelt om ’n nuwe dimensie aan ’n lied te verleen. Vanjaar se duetpare verteenwoordig ’n uiteenlopende spektrum van Afrikaanse musiek, van gevestigde kunstenaars tot jong stemme met groot potensiaal. Die fees bied aan gehore ’n middag van humor, uitsonderlike musiek, samewerking, volmaakte harmonie en onvergeetlike oomblikke.”
Aucamp het ook vir groot opwinding gesorg toe hy een van Moolman se bekende onderbaadjies aangetrek en ten bate van die Bloedrivier-erfenisterrein opgeveil het. Die veiling is afgesluit met ’n wenbod van R20 000 ten bate van dié historiese terrein, wat tans deur finansiële uitdagings in die gesig gestaar word.
Volgens Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof van kuns, musiek en kultuur, speel die fees ’n belangrike rol in die bevordering van Afrikaanse musiek en kultuur.
“Afrikaanse musiek het ’n merkwaardige vermoë om mense oor generasies heen te verbind. Die FAK-Afri-Duetfees bring kunstenaars uit uiteenlopende agtergronde en met verskillende musikale ervarings bymekaar en toon weereens die ongelooflike talent wat binne ons taal en kultuur bestaan. Deur betekenisvolle samewerking tussen kulturele organisasies, ondersteuners en kunsinstellings skep ons geleenthede waar hierdie talent gevier en verder ontwikkel kan word.”
Die Afri-Duetfees 2026 was ook betekenisvol as die tweede produksie wat aangebied is ingevolge die samewerkingsooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Staatsteater en die FAK. Hierdie vennootskap skep nuwe geleenthede vir Afrikaanse kunstenaars om hul werk by een van die land se voorste uitvoerende kunstelokale aan te bied en verseker dat gehore toegang het tot produksies van die hoogste gehalte.





