Op 9 Augustus gaan die Voortrekkermonument-terrein ’n lewendige feesterrein word wanneer stalletjiehouers en besoekers opdaag vir die grootste Afrikaanse gemeenskapsbasaar in die land. Hierdie geleentheid, aangebied deur die FAK, bring ’n huldeblyk aan twee besondere mylpale: ’n eeu van Afrikaans as amptelike landstaal en die honderd-en-vyftigste bestaansjaar van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), die eerste organisasie wat hom doelbewus vir Afrikaans beywer het.
Die GRA-basaar is nie net ’n nostalgiese terugblik op die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook ’n moderne viering van gemeenskap, samehorigheid en skeppingsdrang. Anders as ’n tradisionele basaar, is hierdie ’n inklusiewe gemeenskapsgeleentheid wat daarop gemik is om verskillende instellings, organisasies en individue bymekaar te bring rondom dit wat ons deel: ’n liefde vir taal, kultuur en kuier.
Gemeentes, skole en entrepreneurs word uitgenooi om stalletjies op te slaan en hul koskuns, handewerk, speletjies of produkte ten toon te stel. Daar is geen stalletjiefooie nie, en deelnemers behou 80% van hul inkomste, terwyl die oorblywende 20% aan basaarlogistiek toegewy word. Dit is ’n geleentheid om fondse vir jou gemeente, projek of organisasie in te samel, terwyl jy deel vorm van iets veel groter: die viering van ’n taal en ’n erfenis wat oor eeue gegroei het.
Besprekings vir stalletjies sluit op Maandag 21 Julie 2025, en belangstellendes word aangemoedig om betyds te bespreek deur ’n e-pos aan [email protected] te stuur. Die organiseerders verwelkom alles van pannekoek en poeding tot bobotie, breikuns en tombola – enigiets wat die ware gees van ’n basaar uitstraal.
Besoekers kan uitsien na ’n vol, feestelike program. Op die markplein wag musiekoptredes, kos- en snuffelstalletjies, én ’n boekeparadys vir jong lesers. Kinders kan ook uitsien na modeltreinuitstallings en ander verassings, terwyl volwassenes die handvlyt- en volkskunsuitstalling kan geniet. Hier sal weefwerk, koekversiering, breiwerk en meer te sien wees. Omdat die basaar op Vrouedag plaasvind, kry vroue en kinders gratis toegang tot die Voortrekkermonument.
Die dag bring nie net kultuurliefhebbers saam nie, maar verenig generasies. Die stigting van die GRA in Paarl was destyds ’n daad van kulturele selfbevestiging, ’n verklaring dat Afrikaans sy eie plek verdien.
Vir medianavrae kontak: Marike Kilian by [email protected]






