’n Byeenkoms wat nie net ’n kompetisie was nie, maar ’n viering van geloof, taal en identiteit. Dit was die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) se Nasionale Redenaars- en Kultuurfees wat op 22 en 23 Augustus aangebied is.

Ongeveer 130 leerders van reg oor Suid-Afrika het met hul beste toesprake die gehoor beïndruk. Elke deelnemer het die kans gekry om hul standpunt duidelik, kragtig en oortuigend oor te dra.

Dit het egter nie by redenaars gebly nie. Die kultuurfees het die beste van die beste gesien – 20 gekose items per streek wat uiteenlopend gewissel het van formele en informele poësie, prosa en toneel, tot spreekkore, sang en instrumentale musiek. Die verhoog was vol kleur en kreatiwiteit – ’n fees van talent wat geen toeskouer onaangeraak gelaat het nie.

Die twee dae is by Pretoria CVO Skool afgeskop, waarna leerders na verskeie lokale versprei het om hul onderskeie streke met trots te verteenwoordig. “Kultuur vorm identiteit en in die BCVO is die Afrikaner-identiteit duidelik sigbaar,” verduidelik Cara Tomlinson, kultuurorganiseerder van die FAK. “Die vermoë om voor mense te praat en jou woorde oortuigend oor te dra, is ’n lewenslange bate. En wat ’n voorreg om dit binne ’n Christelike raamwerk te doen, waar kinders hul standpunte selfs uit die Bybel kan staaf.”

Die opening deur ds. Schalk Strauss het diep aanklank gevind: “God het die aarde kunstig geskape, en ons ontvang die gawes om self kunstig te wees.” Hierdie boodskap het soos ’n goue draad deur die hele fees geloop. Elke dramastuk, musiekstuk en redevoering was ’n opregte getuienis van Godgegewe talent en toewyding.

Die hoogtepunt was natuurlik die Noord-Kaap se kultuurspan wat die 2024-BCVO-Kultuurtrofee huis toe kon neem! ’n Monumentale prestasie wat hul harde werk en passie kroon. Baie geluk ook aan al die fase- en afdelingswenners, sowel as elke deelnemer wat hierdie fees so uniek gemaak het.