Die Orania Bewaringstigting en FAK-Noord-Kaap het op 25 Julie ’n sterre- en sonkykgeleentheid, onder leiding van ’n kenner, dr. Ruhann Steyn, op Orania aangebied.
Cara Tomlinson, FAK-Noord-Kaapse kultuurorganiseerder en ook koördineerder van die geleentheid, het ná afloop van die aanbieding gesê:
“Deur die sterre en die hemelruim te bestudeer, besef ons opnuut ons eie nietigheid en ons Skepper se almag. God openbaar Hom nie net deur sy Woord nie, maar ook deur sy Skepping –die natuurlike openbaring. Ons kultuuropdrag om te bewoon, te bewerk en te bewaar, kry nuwe betekenis wanneer ’n mens meer oor die skepping leer.”
Ten spyte van die koue Karoo-winter is die geleentheid uitstekend bygewoon. Die program het laatmiddag afgeskop met ’n sessie waartydens die son met behulp van spesiale toerusting bestudeer is.
Dr. Steyn is ’n senior dosent verbonde aan die Sentrum vir Ruimtenavorsing aan die Noordwes-Universiteit. Hy het sy voorgraadse studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi, waarna hy sy MSc- en PhD-grade in heliosferiese fisika aan die Noordwes-Universiteit behaal het.
Sy MSc-navorsing het op die Son se magneetveld gefokus, terwyl sy PhD die vervoer van energieke deeltjies tussen die Son en die Aarde ondersoek het, met spesifieke toepassing op ruimteweervoorspelling. Daarna het hy ook nadoktorale navorsing in sonfisika en hoëresolusie-sonwaarnemings aan Northumbria University in Newcastle in die Verenigde Koninkryk gedoen.
Met hierdie uitgebreide kennis as agtergrond het dr. Steyn die deelnemers op ‘n besonder interessante reis deur ons sonnestelsel geneem. Ná die sonsessie het die sterrekykgeleentheid gevolg. De teleskoop word aan ’n projektor gekoppel sodat almal die waarnemings gelyktydig kon volg.
Die aand het begin met ’n blik op Venus, waarna die Maan bestudeer is. Daarna is die bekende “Juwelekussie” – ’n sterreswerm waar miljoene sterre saamgegroepeer is – besigtig. Later die aand het deelnemers ook die geleentheid gehad om Saturnus dop te hou soos die planeet in die ooste opgekom het.
Bywoners het die geleentheid as leersaam, interessant en inspirerend beskryf , en dit geloof as ’n uitstekende manier om die wonder van die sterrehemel op ‘n toeganklike wyse aan mense bekend te stel.


