Mediaverklaring

11 Oktober 2023

’n Voormalige Boeregeneraal van die Anglo-Boereoorlog se graf is gruwelik geskend en opgegrawe in sy familiebegraafplaas.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het laat gistermiddag (10 Oktober) die nuus ontvang dat die graf van voormalige ’n Boeregeneraal van die Anglo-Boereoorlog (ABO), Andries Cronjé, gruwelik geskend en opgegrawe is.

Die grafskending het plaasgevind op die plaas van Andries Cronjé, in die Stilfontein-distrik in Noordwes, wat nou deur Gert Coetzer besit word. Die Andries Cronjé-familiebegraafplaas is op ’n afgeleë gedeelte van die plaas.

Jan-Danie Malan, kultuurkoördineerder van die FAK se kultuurnetwerke, het die skandelike toneel besoek.

“Wat hier gebeur het, is ’n drakoniese skending van Afrikanererfenis. Twee grafte is heeltemal oopgegrawe en daar is oorskot, vermoedelik van ’n skelet, gevind by die oop graf. Dit is onduidelik wat die doel agter die grafskending was, maar hierdie daad is afgryslik en skandelik … Grafskending van die hoogste graad.”

Werknemers van Coetzer wat Maandagoggend op die toneel afgekom het, was duidelik geskok en bevestig dat die misdaad in die afgelope week plaasgevind het.

Die FAK gaan ’n saak by die polisie aanhangig maak met die hoop dat die booswigte vasgetrek word vir hierdie skandalige misdaad teen ons kosbare en onvervangbare erfenis.

Coetzer sê dit is ondenkbaar om te dink dat ’n mens so iets sal doen.

“Die hele ding maak nie vir my sin nie. Ek sal alles in my vermoë doen om te red wat daar te redde is.”

Andries Cronjé is beskou as een van die rykste mans wes van Potchefstroom.

Hy was intelligent en dapper en was reeds op 16-jarige ouderdom deel van verskeie militêre veldtogte. As jong man van skaars 20, was hy reeds veldkornet en is teen 1900 tot veggeneraal bevorder.

In ’n oomblik van desperaatheid tydens die ABO, gee Cronjé oor aan die Britse mag; ’n daad waarvoor sy volksgenote hom nooit vergewe het nie.

“Hy was die rykste ou in die Wes-Transvaal. Hy was een van die 12 stigterslede van SenWes koöperasie in 1909 … Die hele area is baie geskiedkundig,” sê Coetzer.

Die FAK veroordeel die skending van grafte en erfenisbakens ten sterkste en vra die publiek om enige vandalisme en/of afbreek van ons erfenis by die FAK aan te meld: