Die FAK-Brandfort-Kultuurnetwerk het hul belofte om die Brandfort-konsentrasiekampbegraafplaas skoon te maak, nagekom.

In Maart het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) aangekondig dat nog ’n kultuurnetwerk in die sentrale streek gestig is. Dit is dié Brandfort-Kultuurnetwerk. Hul grootste doel is om die Brandfort-konsentrasiekampbegraafplaas op te knap en vandeesweek het hulle hierdie doel bereik.

“Ons het gewoeker om die terrein weer skoon, netjies en besoekbaar te maak.”

Só het Jan-Danie Malan, kultuurkoördineerder in hierdie streek gesê.

“Hier word groot dinge beplan om die massa grafte weer op te kikker en weer ’n sieraad vir die dorp te maak,” sê Malan.

Jana Fourie, ’n boer in die omgewing wat die dag bywoon het, het haar dankbaarheid teenoor die FAK uitgespreek vir die inisiatief en het hard saamgewerk om te help skoonmaak.

Die sameroeper en ruggraat van die projek, Hannes van Dyk, se familie het diep spore in die gemeenskap getrap. Sy voorouers was self in dié konsentrasiekamp.

Van Dyk verduidelik dat erfenisbewaring sy passie is en dat hy gereeld die terrein sal onderhou. Hy wil spesifiek die geskiedenis van die konsentrasiekamp deel met skoliere.

“Ek is so trots op die Brandfort-gemeenskap wat in trosse hier aangekom het en hand bygesit het vir die projek. Die Brandfort Voortrekkers het ook deur die loop van die middag opgedaag en help takke en sakke vol blare uitsleep,” sê Malan.

Adriaan Pienaar (14) is deel van die Brandfort Voortrekkers. Hy is verwonderd oor die konsentrasiekamp en die vroue se deursettingsvermoë.

AfriForum Brandfort het ook ingespring en die gemeenskapsaak ondersteun.

Spesiale dank aan Charmaine Alberts, wat toegang gegee het tot die konsentrasiekamp om daar te kon skoonmaak, asook Working on Fire wat gehelp het om skoon te maak.

Die FAK-kultuurnetwerke regoor die land maak daagliks ’n verskil om te bou, te bewaar en te onthou. Maak ’n verskil en raak betrokke by die naaste kultuurnetwerk in jou area.

https://fak.org.za/kultuurnetwerke/