Maart net so voor April
Ons tasse staan gepak
My vrou en my kinders se harte word vertrap
Soos ek terugkyk in die gange
Sien ek reeds verlange na my staar
Ek wens ek kon bly
O bring my terug na die ou Transvaal –
Ek mis my taal.

Logan Pietersen se trefferlied, “Bring my terug” is op 22 September vrygestel en spreek reeds van die heel eerste reëls af tot ’n diep verlange in ons Afrikanerharte.

Elke Afrikaner het ’n broer, ’n seun of ’n vriend wat in die VSA gaan boer het – in baie gevalle omdat dit noodsaaklik is vir die jong boere om te kan oorleef. Logan vertel dat hy al vir byna 15 jaar onbewustelik deel geraak het van dié proses van oorsese werk en gaan laai af, of gaan haal dikwels sy vriende by die lughawe.

Hy het hierdie lied geskryf vir die manne wat in die VSA met hulle H2-A visum werk, sodat hulle vir hul gesinne kan sorg, maar wie se harte terughunker na Suid-Afrika. Na waar hulle tuiste is. Na waar hulle eintlik wil wees.

“Dis my wonderwerk-lied,” sê Logan in ’n eksklusiewe onderhoud met die FAK.

“Al wat hulle soek, is moed en hoop.”

Logan vertel dat hy aanvanklik in ’n ander rigting beweeg het met die lied. Toe sy verloofde hom aanraai om na ’n preek te luister wat sy gedink het by hom sou aanklank vind, is hy geïnspireer om hierdie lied te skryf. Hy noem die lied sy “wonderwerk-lied”, want hy voel die Here het hom op die pad gelei om die lied te skryf.

Hierdie lied verwoord ’n verhaal van verlange, maar terselfdertyd bring dit hoop aan die manne wat huis toe verlang. Logan Pietersen is lief vir sy land. Sy wortels is diep gegrond in Afrikasand en dit is hier op eie bodem waar sy hart lê.

Logan is reeds aan die gang met sy nuutste lied en brei volgens die sanger uit op hierdie verhaal.

Terwyl soveel Afrikaners in die buiteland woon vir werk, wil Logan graag in Suid-Afrika bly en op eie bodem ’n impak maak.

Alhoewel die sanger van Limpopo afkomstig is, is Stilbaai sonder twyfel sy gunstelingplek op aarde en sal graag daarheen verhuis. Êrens diep in die berge, langs ’n riviertjie, is waar hy vrede vind.