Mediaverklaring

25 Februarie 2023

Brits/Hartebeespoortdam-gemeenskap maak ’n verskil

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Brits/Hartbeespoortdam-Kultuurnetwerk het in samewerking met Koersvas Voortrekkerkommando, dit op hulle skouers geneem om die Bart Pretorius Voortrekkerbegraafplaas naby Broederstroom, skoon te maak en op te knap.

Dit is vanjaar die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek en alhoewel die FAK se kultuurnetwerke elke naweek projekte soos dié aanpak, is die vergrootglas vanjaar op ons Groot Trek-tydperk en die impak wat die Voortrekkers gemaak het en vandag steeds het.

“Dit was ’n absolute voorreg en fees om te sien hoe die kinders van vandag bereid is om hulle hande diensbaar te stel om ons erfenis te bewaar deur dit te onderhou.”

Só sê Barry Müller, die FAK se kultuurkoördineerder van die Noordelike provinsies.

“Die kinders het met soveel vreugde hulle hande vuilgemaak en gewerk om skoon te maak,” gaan Müller voort. “Dit gee mens waarlik hoop vir die toekoms dat die volgende generasie bereid is om die vaandel op te neem en die stryd teen die aftakeling van ons erfenis teen te staan.”

Hierdie Voortrekkerbegraafplaas is vernoem na die broer van Andries Pretorius, Hercules Albertus (Bart) Pretorius. Hy was Andries Pretorius se adjudant toe Pretorius kommandant-generaal was met die Slag van Bloedrivier.

Broederstroom is gestig toe die Pretorius-broers, Piet (Henning Petrus Nicolas), Wynand (Johannes Lodewyk Wynand) en Bart (Hercules Albertus) hulle op die oewer van die Krokodilrivier gevestig het – vandaar die naam Broederstroom. Die erf waarop hierdie Voortrekkerbegraafplaas staan, is al in 1845, volgens die erfregister van Potchefstroom, aan Bart toegeken.

In hierdie Voortrekkerbegraafplaas is daar ongemerkte grafte. Pastoor Tony Louch wat in hierdie omgewing woon, vertel dat dit waarskynlik die nageslag van hierdie Pretoriusse is wat volgens oorlewering tydens die Spaanse Griep in groot getalle oorlede is en haastig begrawe moes word.

Die kleindogter van Piet Retief is ook in hierdie begraafplaas ter ruste gelê.