Sarel (Charel) Kleinhans is die jonger broer van bekende sanger Herman Kleinhans en het pas sy eie album, Transkei, vrygestel. Die Suid-Afrikaanse gehoor is bekend met en gek oor Herman se musiek, maar maak reg vir Sarel, want hy gaan die Afrikaanse musiekindustrie op horings neem.

Hierdie Oos-Kaapse broers het in ’n musikale familie grootgeword. Herman het by sy pa geleer musiek maak en Sarel weer by Herman. In ’n eksklusiewe onderhoud met die FAK het ons gesels met Sarel en Herman, die album, hulle grootworddae en wat die toekoms inhou.

“Ek onthou ek het altyd na Herman geluister as in sy kamer kitaar speel, dan lê ek daar langsaan en raak aan die slaap,” skerts Sarel.

“Op skool het ek altyd net kitaar gespeel en half saggies saamgesing. Ek was altyd te skaam gewees en wou nie hê iemand moes my hoor sing nie, maar toe hoor ek Herman en my pa het by die deur gestaan om te luister.”

Sarel het oorspronklik nie musiek as ’n loopbaan oorweeg nie, alhoewel hy altyd ’n passie vir musiek gekoester het. Hy het die regte bestudeer en sy graad hierin voltooi, maar eindelik tot die besef gekom dat hy eintlik net musiek wil maak.

“Ek het nog altyd daarvan gehou om musiek te maak en moes net die kans vat om musiek as loopbaan te kies.”

Transkei, Sarel se eerste album, is ’n versameling liefdesliedjies wat aan sy vrou opgedra is. In sy musiek vertel hy van hulle lewe saam en die luisteraar word saamgeneem op hul avonture. Só is dit dan ook met die titelsnit, “Transkei”. In 2017 het die paartjie in Transkei gaan vakansie hou en die pragtige omgewing was só inspirerend, dit het hierdie liedjie tot gevolg gehad.

“En die reuke bring my terug
Na die somervakansie
Die kar is gelaai ons moet ry
Dis vroeg in die oggend
En die son skyn in Transkei
Die tent is natgedou
En ek het jou langs my
Hierdie is dalk niks
Maar vir my is dit alles
Hierdie is dalk niks
Maar dis werklik alles”

Op die album is avonture wat Sarel en sy vrou oor die laaste paar jaar gedeel het. “My Maggies”, wat ook op die album verskyn, vertel van die paartjie se troudag.

Gaan luister bietjie self na die album, ons gaan nog baie van Sarel Kleinhans sien. Sarel beplan om nóg liedjies te skryf, nóg musiek te maak wat Suid-Afrikaanse harte gaan steel.