Wynand Strydom is ’n goed gevestigde sanger in die Afrikaanse musiekbedryf en sy splinternuwe enkelsnit, “Die duiwel op my skouer”, het onlangs verskyn.

Wynand se liefde vir musiek het eers op hoërskool begin toe hy ’n liefde vir teater ontwikkel het. Hy het graag na Laurika Rauch en Koos du Plessis geluister. Na sy studies het Wynand eers ’n loopbaan in die onderwys trotseer, voordat hy ’n klein begin in die musiekbedryf gemaak het. Vandag is hy al 20 jaar in die bedryf met vele liedjies.

“Ek is op ’n plek in my lewe en loopbaan waar ek selfverseker is. Musiek het vir my ’n inspirerende doel en daarom maak ek Afrikaanse musiek.” Wynand glo ook dat mense hul identiteit in musiek kan vind.

Alhoewel Wynand nie self die skrywer van liedjie, “Die duiwel op my skouer”, is nie, het die liedjie se boodskap hom baie geïnspireer. “Die lirieke het soveel met my gepraat. Almal maak foute en die liedjie gee vir mense ’n geleentheid om dinge miskien anders te hanteer.”

Vir Wynand is lirieke van liedjies baie belangrik. Hy is veral geïnspireer deur die lirieke van Koos du Plessis. “Die luisteraar kan self besluit hoe hy/sy die lirieke wil interpreteer. As daar ’n definitiewe boodskap is, kan die luisteraar dit dalk nog positief aanwend in sy/haar eie lewe.”

Kikker jou dag op met Wynand se musiek en laat weet ons watter boodskap vir jou uitstaan.