Mediaverklaring

11 Junie 2023

Die afgelope naweek het op ’n skouspelagtige wyse afgesluit by die Voortrekkermonument (VTM), met honderde gaste wat saamgekom het om ’n dag van goeie musiek te geniet met die Monumentale Koorfees.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Adamo Kamerkoor en SingFonix mans-ensemble het vanjaar kragte saamgespan om dié geskiedkundige koorfees op die planke te bring.

Die Monumentale Koorfees 2023 was die eerste van sy soort wat by die VTM aangebied is met verskeie skool- en gemeenskapskore wat net weer bewys het dat kunste in Suid-Afrika kan kers vashou by die beste in die wêreld.

Hannelie van Sittert, dirigent en afrigter van die Adamo Kamerkoor, het gesê sy is baie opgewonde oor hierdie fees en die blootstelling wat dit aan ons sangers gee.

“Vanjaar was dit die eerste keer wat ons hierdie fees aangebied het saam met die FAK en SingFonix en dit was werklik fantasties om te sien hoeveel mense nog die plaaslike kunste ondersteun. Ons kunstenaars, jonk en oud is werklik wêreldklas en dit is hoekom feeste soos hierdie so belangrik is om hierdie musikante die blootstelling te gee wat hulle verdien,” het sy gesê.

FC Pelser, kommunikasiebeampte van die VTM, het as seremoniemeester opgetree tydens die fees en is dit met Van Sittert eens dat die kunste in Suid-Afrika ’n blink toekoms het.

“By die Voortrekkermonument en FAK is die ontwikkeling van ons jeug vir ons baie belangrik,” het hy gesê.

“Wanneer die FAK ’n projek aanpak, is dit opvallend hoe baie jongmense betrokke raak en dit gee mens werklik hoop vir die toekoms. Of dit nou op ’n konsentrasiekampterrein is, tydens ’n skoonmaakaksie of met die Afrikaans-Ekspo, óf by ’n koorfees soos die Monumentale Koorfees, een ding bly seker, die jeug van ons land is baie passievol oor hul taal, kultuur en geskiedenis.”

Tydens vanjaar se fees het die Magaliesberg Kinderkoor, Laerskool Garsfontein Juniorkoor en Seniorkoor, Laerskool Menlopark, Pretoria Mannekoor, Laerskool Constantiapark Juniorkoor en Seniorkoor, Laerskool Elarduspark Seniorkoor, SingFonix en Adamo die gehoor vermaak met die beste koormusiek en ’n paar lekker Afrikaanse treffers soos, die “Skadumonsterdans”, “My familie van Superhelde” en die immergewilde Coenie de Villiers-lied “Namakwaland”.

Lieandri Ackermann, die FAK se projekkoördineerder van skole- en musiekprojekte, sê die FAK wil ’n tuiste skep vir Afrikaanse jeug.

“Daar is in skole en oor die algemeen ’n gevoel dat kultuur dikwels moet terugstaan vir sport, daarom is dit lekker om te sien dat ons kultuur steeds ’n blink toekoms het en vir niemand hoef terug te staan nie,” het sy gesê.

“Ons jong klomp het soveel talent, en geleenthede soos hierdie maak ons almal se werk by die FAK die moeite werd – die FAK wil ’n tuiste skep vir ons kultuur en ek dink ons het dit gister goed reggekry. Dankie vir SingFonix en Adamo wat die FAK by hierdie wonderlike projek betrek het.”