Lede van die Noordelike Voorstede-FAK-Kultuurnetwerk het Maandagmiddag 6 November 2023 besoek afgelê by die graf van Sarah Raal in die Maitland-begraafplaas naby Kaapstad, en gereflekteer op die lewe van hierdie merkwaardige vrou.

Susarah Frederika Magdalena Raal is 150 jaar gelede op 6 November 1873 op die plaas Olijvenfontein in die Vrystaat gebore. Haar naam is verewig in ons volksgeskiedenis omdat sy tydens die Anglo-Boereoorlog saam met die mans op kommando was en aktief deelgeneem het aan intense guerrilla-oorlogvoering.

Na die oorlog het sy haar oorlogsherinneringe opgeteken in ’n boek Met die boere in die veld wat in 1938 verskyn het. In ’n reeks artikels vir die Kaapse koerant, Die Burger, het sy die ontberinge, lyding, swak toestande in die konsentrasiekampe, en vergrype en plundering van plase kaalvuis belig. Dit het hewige, gemengde reaksie ontlok en selfs telefoonoproepe waarin sy gedreig is tot gevolg gehad.

Dit word vertel dat Sarah vindingryk was en die hart van ’n leeu gehad het. Sy het die lewe vir die Engelse op alle terreine so moeilik as moontlik gemaak. Tydens die oorlog het sy aanvanklik in die veld geskuil, maar is later gevang en na die Springfontein-konsentrasiekamp gestuur. Hier het sy eensame opsluiting verduur in die gevreesde “bird cage” na ’n konfrontasie met die kampkommandant. Sy slaag later daarin om uit die kamp te ontsnap en sluit aan by ’n Boerekommando met een doel voor oë, om saam met haar pa en vier broers te veg, en dit is presies wat sy gedoen het.

Sarah was getroud met Ockert Jacobus Snyman. Hulle het ’n seun en twee dogters gehad. Sy is op 4 Desember 1949 die ouderdom van 75 in Kaapstad oorlede.