Mediaverklaring

27 Maart 2023

Die FAK oorhandig toekenning vir Theuns Jordaan by Loftus

“Musiek is nie net woorde en note nie, musiek is ’n taal, ’n hartstaal. Theuns het daardie hartstaal met ons almal gepraat. Dit is hoekom ons vanaand hier is; omdat Theuns ons harte geraak het met sy musiek, sy woorde, sy taal.” So sê Danie Langner, besturende direkteur van die FAK.

Die FAK het op 25 Maart tydens die Theuns Jordaan Tribute-konsert by Loftus ‘n toekenning vir Theuns Jordaan aan sy pa, Willie Jordaan, oorhandig. Net die vorige dag, op 24 Maart, is daar ‘n met ‘n spesiale geleentheid in die FAK Liedjietuin ‘n liedjiebord vir Theuns opgerig.

“Die FAK Liedjietuin is ’n plek waar ons erkenning wil gee aan die groot bydrae van ons kunstenaars. Dit was ook ’n baie spesiale geleentheid om vir oom Willie en Linda daar te hê” sê Langner.

Die lied wat W Jordaan vir die liedjiebord gekies is, is Vreemde Stad. W Jordaan vertel dat Theuns hierdie lied uit sy hart geskryf het, nadat hy van Stellenbosch na Pretoria verhuis het om sy sangloopbaan te begin.

Dit is duidelik dat W Jordaan sy seun mis. Hy noem Theuns sy seun, sy trots, sy verlange. “Daar is nie meer iemand wie ek kan bel in die aand en sê hy moet die vlakvarke kom skiet nie.”

W Jordaan het die FAK en die organiseerders van die Theuns Jordaan Tribute-konsert bedank vir die groot geleentheid en vir die eer wat aan Theuns gebring word. “Ek glo waar Theuns nou is, glimlag hy oor die eer wat gister en vandag aan hom gebring is” sê W Jordaan.

Langner het aan Jordaan gesê, net voor die toekenning oorhandig is, dat hy hoop dat W Jordaan die aand sal koester as ’n aand waar mense Theuns wil onthou. “Oom Willie, ons hoop en glo dat Oom vanaand hier, in hierdie vreemde stad, die hart, die omgee, die liefde wat ons vir Theun het, naby sal ervaar.”

Die FAK wil Theuns Jordaan graag verder huldig deur van sy liedere in die FAK-Sangbundel, wat in 2029 gaan verskyn, op te neem. Die FAK nooi die publiek uit om voorstelle van hul gunsteling Theuns Jordaan-liedere te stuur.