Hoewel die oorheersing van sommige trefferslyste deur ’n handjievol kunstenaars die wanopvatting laat ontstaan dat daar nie veel diepte in Afrikaanse musiek is nie, het ’n aantal gevestigde kunstenaars, asook een of twee nuwelinge, nuwe enkelsnitte vrygestel wat die potensiaal het om gewild te word.

“Lyntjie” – Die Piesangskille

Die Piesangskille het groot sukses behaal met hul eerste enkelsnit, “Mal Maandagaande”, en nou is hulle terug met hul jongste treffer, “Lyntjie”, wat iets heeltemal anders is. Hierdie snit, geskryf deur Roux Cloete en die twee groeplede Daniël Marais en Johan Balt, is geïnspireer deur ’n meisie oor wie Daniël baie erg was, maar wat gesê het sy wil net vriende wees. Hulle glo die liedjie sal by ’n breë gehoor aanklank vind omdat daar baie mense is wat al in dieselfde situasie was.

“Hoekom is die hemel blou?” – C-Storm

Hoewel C-Storm eers kort voor sy vyftigste verjaardag tot die musiekbedryf toegetree het, het hy hom gevestig as ’n kunstenaar wie se lirieke meer om die lyf het as die gemiddelde Afrikaanse liedjie. Met sy jongste vrystelling, “Hoekom is die hemel blou?”, wys hy ook dat hy nie bang is om ernstige onderwerpe kaalvuis aan te durf nie. Soos met baie van sy ander liedjies, is dit geïnspireer deur mense wat hy op sy lewenspad raakgeloop het. Hy vertel van ’n Weskus-boorling wat aan gevolge van demensie oorlede is, en die jarelange huwelik tussen hom en sy vrou. Teen die einde het hy haar darem nog herken, en dit het haar die moed gegee om voort te gaan met die lewe. Dit is dalk nie die tipiese radiotreffer nie, maar eerder ’n liedjie wat die toets van die tyd sal deurstaan as gevolg van diepsinnige lirieke.

“Khaki” – Ricus Nel

Ricus Nel het aanvanklik as ateljeemusikant bekendheid verwerf omdat hy veertien musiekinstrumente kan bespeel, maar die afgelope tyd het hy ook as sanger gewild geword. In sy nuwe enkelsnit, “Khaki”, vertel hy van ’n jagnaweek waarvoor hy genooi is, maar wat hy nie kon bywoon nie, en hoe hy en sy gesin die beste van ’n slegte saak maak. Die humor in die lirieke sal beslis aanklank by sy aanhangers vind, en dit behoort net so gewild soos sy vorige treffers te word.

“Niks om oor huis toe te skryf nie” – Demi-Lee Moore en Die Heuwels Fantasties

Hoewel Demi-Lee Moore jare gelede aan Idols deelgeneem het en ’n enkelsnit of twee opgeneem het, het sy eers gewild geword nadat sy die eerste seisoen van Die Kontrak gewen het. Sy het haar tot dusver hoofsaaklik op kommersiële Afrikaanse en country-musiek toegespits, maar met haar nuwe enkelsnit beweeg sy heeltemal uit haar gemaksone deur met Die Heuwels Fantasties saam te span. Vir haar aanhangers sal dit dalk effens vreemd wees, maar hulle sal gou gewoond raak daaraan.

“Lawaaiwater” – Anzelle

Na die sukses van haar eerste enkelsnit, “Klein botteltjie groot gif”, is Anzelle terug met haar jongste enkelsnit, “Lawaaiwater”. Hierdie komposisie van Roux Cloete en Dirk van Niekerk is gebaseer op die ware lewensverhaal van elke student. Dit vertel van studente wat heelnag kuier en die lewe geniet met iets om te drink. Sy beskou dit as die nuwe kuierliedjie wat mense sal laat dans.

“Laat dit goed gaan” – Marissa

Na die sukses wat sy met “Ons twee genoeg”, haar duet saam met Barto, behaal het, is Marissa terug met ’n nuwe enkelsnit, “Laat dit goed gaan”. Hierdie snit sal nie net jou voete laat jeuk nie, die lirieke dra ’n positiewe boodskap oor en laat ’n mens van jou probleem vergeet. Daarby is die musiekvideo ’n fees vir die oog. Marissa gaan groot sukses met hierdie liedjie behaal!

“Dis ’n man” – Corlea

Corlea was baie lank stil, maar sy is met mening terug met ’n nuwe enkelsnit. “Dis ’n man” is ’n huldeblyk aan die pa’s wat opofferings maak om hul gesinne te onderhou en alles sal doen vir die mense wat hulle liefhet. Dit het die potensiaal om ’n groot treffer te word, veral omdat omtrent elkeen ’n vaderfiguur in sy of haar lewe het of gehad het, en hiermee kan identifiseer.

“Volkswagen-bussie” – Ryno Velvet

Na die sukses van sy album, Toe roep ek jou naam saam met Jan Blohm, is Ryno Velvet terug met sy nuwe enkelsnit, “Volkswagen-bussie”. Op hierdie snit sing hy van die nostalgie van die verlede, waarvan hierdie tipe bussie ’n simbool is, asook die goeie tye wat in die toekoms voorlê. Hoewel dit wegbreek van die hoofstroom van Afrikaanse musiek, is dit steeds toeganklik vir ’n breë gehoor.

“Hoor jy my?” – Tarryn Lamb

Tarryn Lamb, wat voorheen lid van die groep Blackbyrd was, het haarself die afgelope tyd as ’n Afrikaanse kunstenaar gevestig, en haar nuwe enkelsnit, “Hoor jy my?”, geskryf deur Frank Freeman, is ’n meevoerende ballade wat uitstyg bo die gemiddelde Afrikaanse musiek wat gereeld oor die radio gespeel word. Die boodskap wat uitgedra word, is dat almal soms deur ’n moeilike tyd gaan en net sterk probeer wees. Dit het die potensiaal om ’n groot treffer te word.

“Ek moes dit gesê het” – Andriëtte

Na die sukses wat Rudi Claase as liedjieskrywer en Andriëtte as sangeres met “Sewe oseane” behaal het, het hy al hoe meer treffers vir haar begin skryf. Andriëtte se jongste enkelsnit, “Ek moes dit gesê het”, is weer eens uit Rudi se pen. Die boodskap wat sy met hierdie liedjie oordra, is dat ’n mens nie bang moet wees om te sê hoe jy voel nie en dat jy dit moet doen voordat dit te laat is.