Mediaverklaring

3 Maart 2023

Dirkie Uys leer en inspireer

Op die vooraand van die 200-jaar herdenking van Dirkie Uys se geboortedag (3 Maart 1823) besoek die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) Hoërskool en Laerskool Dirkie Uys op Moorreesburg.

Dié skole is na Dirkie Uys hernoem in 1938 met die Simboliese Ossewatrek en Groot Trek eeufeesvieringe. Die skoolhoof van Hoërskool Moorreesburg, wat daardie jaar verdeel het in ’n hoër- en laerskool het voorgestel dat die skole herdoop word na Dirkie Uys.

Die FAK se Kaapse Kultuurnetwerke het dié twee skole besoek om die heldedaad van Dirkie Uys oor te dra en het ervaar hoe die klein vyftienjarige Dirkie Uys vandag steeds inspireer.

By die intrapslag by die hoërskool is sketse van die kinderheld teen die muur bokant die ontvangstoonbank sigbaar. Tydens pouse ontmoet ons al die 15-jarige seuns in die skool vir ’n foto, want dit was die ouderdom van die kinderheld toe hy sy lewe opgeoffer het uit liefde vir sy pa.

Hierdie groep seuns laat jou opnuut besef hoe jonk Dirkie Uys was.

Dané Joubert, ’n skoolleerling in dié skool, sê: “Dirkie Uys se verhaal laat my dink oor my verhouding met my pa. Ek is dankbaar is dat ek ’n pa in my lewe het. Ek dink ek gaan van nou af my verhouding met my ouers meer waardeer.”

Daar is twee seuns met die naam Dirk in hierdie skool. Dirk du Toit (15) staan nader, geklee in die skool se Dirkie Uys-uitrusting vir ’n foto by die skoolhek.

By die Laerskool Dirkie Uys, vertel een van die ontvangsdames Almarie Rautenbachhoe sy as kind in volume 8 van die Kinders van die wêreld-reeks gereeld die verhale van kinderhelde gelees het en hoe dit elke keer ’n diep indruk op haar kindergemoed gemaak het.

In 1972 is daar ’n beeld van Dirkie Uys by dié laerskool onthul.

Vir ’n wyle vertoef die lede van die Kultuurnetwerk saam met die skoolhoof en die skool se leerderraad by hierdie beeldjie en neem die realiteit in van ’n jong seun wat sy lewe vir sy vader aflê.

Op die vraag of hulle dieselfde vir hul pa’s sou doen, is die reaksie van die seuns sonder huiwering ’n ”ja”.

Voor die skoolsaal groet ons hierdie groep jong leiers met ’n laaste foto by hul skoolwapen. “Wees getrou” is die skool se leuse. Getrou soos Dirkie Uys aan sy pa was, maar ook getrou in alles wat hulle aanpak, of dit akademie of sport is. Dís hoe Dirkie Uys hierdie skool se leerders inspireer.