Mediaverklaring

3 Maart 2023

Dirkie Uys Voortrekkerkommando skiet wortels

Op die 200ste herdenking van Dirkie Uys se verjaardag wat vandag op 3 Maart 2023 plaasvind, gedenk die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Dirkie Uys Voortrekkerkommando die lewe van een van die bekendste kinderhelde.

Ter herdenking het hierdie Voortrekkerkommando, wat die trotse beskermhere van die Uys-roete in die Historiese Trekroetetuin by die Voortrekkermonument (VTM) is, wortels geskiet met die plant van ’n pragtige inheemse plant van KwaZulu-Natal by die Dirkie Uys-beeld wat verlede jaar April onthul is.

Die plant, “kleina galpinii,” het ’n pragtige rooi blom wat metafories die bloed wat dáárdie dag, op 11 April 1838 tydens die lokval by Italeni gestort is, voorstel. Die Historiese Trekroetetuin is ’n kleinskaalse Groot Trek, waar die besoeker in die spore van ons voorouers saam op trek kan gaan. Die beeldjie van Dirkie Uys wat sy vader, Piet Uys, probeer beskerm, vertel die aangrypende verhaal van ’n seun wat sy vader só lief gehad het, dat hy nie sy vader se sy verlaat het tydens die lokval by Italeni nie; ’n opoffering wat hom sy lewe gekos het.

Dian Sieling (16), een van die jong Voortrekkers wat die geleentheid bygewoon het, vertel dat Dirkie Uys se heldedaad hóm inspireer “om elke dag nie net vir jouself te lewe nie, maar ook vir die mense om jou.”

Die FAK vier vanjaar die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek en hierdie projek, wat deur die FAK se Kultuurnetwerke gereël is, is die tweede projek binne die Groot Trek 185-jaar, waarin die FAK die belangrike rolspelers en gebeurtenisse wat 185 jaar terug plaasgevind het, herdenk en onthou.

Barry Müller, die kultuurorganiseerder van die Noordelike provinsies, sê dat Dirkie hóm ook inspireer om elke dag jou ouers te eer, want jy weet nooit wat die toekoms inhou nie.

“Wat ‘n fees om te sien dat selfs 200 jaar na sy geboorte en amper 185 jaar na sy dood, sy naam nog voortleef en sy heldedaad nog steeds ’n impak het op almal wat dit hoor. Ons kan almal daarna streef om so onbaatsugtig en braaf te wees, soos dié kind,” sê Müller.

Die Dirkie Uys Voortrekkerkommando is volgens Willie van Zyl, die kommandoleier, al 70 jaar oud, een van die oudste Voortrekkerkommando’s.

Die FAK is trots om dié kommando as beskermheer van die Uys-roete te hê.