Daar is niks wat die jong musikant Zoé daarvan kan weerhou om haar passie vir musiek uit te leef nie. Sy is met ’n gehoordefek gebore en moes verskeie operasies ondergaan om haar gehoor te red. Van ’n jong ouderdom af moes Zoé al gehoorapparate dra.

Dit het haar egter nie gekeer nie. Sy het reeds in graad een al begin sing en by kunstefeeste opgetree. Daar het haar liefde vir musiek en sang reeds al begin. Soos sy ouer geraak het, het sy die gehoorapparaat ontgroei en haar gehoor het ten volle herstel.

Zoé het egter eers besluit om ’n loopbaan in die onderwys te volg, terwyl sy haar passie vir musiek deeltyds gevolg het. Dit was tot sy besluit het om aan die kompetisie “Die Kontrak” deel te neem. Alhoewel sy nie tot die finale rondte deurgedring het nie, het Die Kontrak baie deure vir haar opgemaak en haar die geleentheid gegee om raakgesien te word.

Vonk Musiek het Zoé genader na haar deelname aan Die Kontrak en haar aangemoedig om liedjies te skryf. Zoé vertel laggend dat sy nog nooit aan haarself gedink het as ’n skrywer nie. Sy sal soms vir haarself liedjies opmaak, maar sy het nie gedink om haar eie liedjies te skryf is binne haar vermoë nie.

Sy het egter haar grootste verwagtinge oortref toe sy in twee weke drie liedjies geskryf het! Zoé het vier maande gelede onderwys prysgegee, stad toe getrek om ’n loopbaan in musiek te begin. As sy terugkyk na waar haar lewe was ’n jaar gelede, kan sy byna nie glo hoe ver sy gekom het nie.

Zoé het vanjaar eers amptelik begin om voor mense op te tree, maar het al klaar ’n plek op die verhoog by Aardklop verdien waar sy die 5de Oktober gaan optree. Sy is baie opgewonde en dankbaar vir hierdie geleentheid.

Zoé se storie is ’n inspirasie vir enige iemand met ’n droom. Haar raad aan aspirantmusikante is om so groot te droom as wat jy kan, want alles is bereikbaar. As iemand hard werk en glo, is dit moontlik om sukses te bereik.