Mediaverklaring

29 Junie 2023

Vir die eerste keer in 29 jaar is die Heldeakker weer in Afrikanerbestuur.

Quentin Meyer, voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Noord van die Berg-kultuurnetwerk, wag al twee jaar lank op die goeie nuus wat hy vandeesweek ontvang het – dat sy aansoek as opsigter van die Heldeakker in Pretoria goedgekeur is.

Meyer is al vir 12 jaar betrokke by skoonmaakaksies in die Heldeakker. Dit was nog altyd sy droom om meer te kan doen om dié historiese terrein, wat so na aan sy hart is, beter in stand te hou.

In 2021 het Meyer aansoek gedoen by die “Adopt-a-spot”-inisiatief wat die Tshwane-metroraad van stapel gestuur het om die publiek aan te moedig om spesifieke areas in beskerming te neem. Persone wie se aansoeke suksesvol is, is dan verantwoordelik vir die instandhouding en deurlopende skoonmaak en “verfraaiing” van dié terrein.

“Al my helde lê in die Heldeakker. Jopie Fourie is my grootse held. Hy verdien meer,” sê Meyer.

Die opknapping van die inhoud en basiese instandhoudingswerk van dié terrein lê by Meyer, maar die groter infrastruktuur en sekuriteit lê steeds by die metroraad.

Dit is nou meer as ses maande wat die muur wat vroeër vanjaar omgery is, stééds nie reggemaak is nie. Selfs nadat die FAK met die metroraad in verbinding getree het en beloftes van opknapping gemaak is deur die metroraad, is daar nog nie vordering gemaak om die erfenisterrein te beskerm nie.

Meyer is ook betrokke by verskeie ander FAK-kultuurnetwerke in Gauteng. Die kultuurnetwerke is voortdurend besig met die opknapping en instandhouding van verskeie erfenisterreine, van die Wes-Kaap tot in die noorde van die land.

Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK sê dat weens die strukturele skade aan die muur, is daar gereeld nuwe skade wat die Heldeakker aangedoen word.

Met Meyer aan die stuur van sake, vertrou die FAK dat hierdie probleem aangespreek sal word. Daar is reeds planne vir samewerking met verskeie organisasies om die Heldeakker reg te ruk en om meer organisasies hierby te betrek. Die FAK, asook die Erfenisstigting, die Voortrekkermonument en AfriForum staan reeds slaggereed om die Heldeakker te herstel na sy vorige glorie.

“Ek wil die tuine netjies kry, blomme plant en die badkamers in werkende toestand kry. Ek gaan druk plaas op die stadsraad om instandhouding te doen, soos om die muur reg te maak,” sê Meyer.

Meyer se liefde en passie vir erfenisbewaring gee ons hoop vir die toekoms van ons Afrikanerbakens. Die FAK se kultuurnetwerke maak daagliks ’n verskil en kan ook in jou omgewing kwessies aanspreek. Raak betrokke by jou naaste kultuurnetwerk. Kontak gerus vir barry@kultuurtuiste.org.za vir meer inligting.